Dikkoppe waak by nes
‘n Leser van Moorreesburg het ‘n broeiende Gewone Dikkop in sy bure se tuin afgeneem en die foto’s vir ons gestuur.
Clifford Wyeth is ‘n ervare meesterfotograaf wat al die Fotografievereniging van Suid-Afrika (PSSA) se LPSSA en DPSSA verwerf het.
Hy vertel die voëls gebruik allerhande taktiek om mens van hul nes weg te lok.
*Die gewone dikkop (Burhinus capensis) herinner ‘n mens aan ‘n kiewiet, maar een met ‘n groter kop.
Dit is ‘n medium-grootte, bruin gevlekte grondvoël met geel oë en is tussen 38–44 cm lank. Hulle is monogaam.
Die gewone dikkop is hoofsaaklik ‘n nagvoël en word gereeld met die waterdikkop verwar, maar is groter en donkerder as die waterdikkop, met opvallende swart-bruin kolle op die rug en vlerke en ’n wit onderkant.
Hul verkies oop habitatte soos fynbos en grasvelde, maar het goed aangepas in landbou- en stedelike omgewings en kom gereeld in parke en tuine ogf op landerye voor en hulle vreet hoofsaaklik termiete, sprinkane, kewers en ander ongewerwelde diere – af en toe reptiele en klein soogdiere asook grassaad.
Die gewone dikkop word ook van die waterdikkop onderskei deir die afwesigheid van ‘n dwarsstreep of paneel bo-op die vlerk. In vlug is daar twee wit vlekkies op elke bo-vlerk sigbaar.
Die waterdikkop het ook ‘n groter snawel.
Gewone dikkoppe het wit wenkbroue. Hul bene en pote is geel en snawels is reguit, kort met geel basis en swart punt. Hul kom oor die hele land voor.
Hul gevlekte vere help om hulle te kamoefleer terwyl hulle op die grond broei. Die eiers (1 tot 3) broei ná 4 weke uit. Die mannetjie en wyfie maak beuete om op die nes te sity en maak die kuikens saam groot en kleintjies verlaat die nes ná vyf tot ses weke.
Hul gebruik dikwels fop-tegnieke soos ‘n oënskynlik gebreekte vlerk, gebreekte rug of gebreekte bene om gevaar weg te lok van eiers en kuikens.
Daar is gemeenskappe waar hul teenwoordigheid as ‘n slegte teken beskou word.