LatestNewsSports

Splinternuwe wedvaart oor 3 dae eindig by Hermon

Met die kano’s skaars afgedroog ná nóg ‘n suksesvolle Bergrivier Kanomarathon, kan roeiers en die streek uitsien na ‘n splinternuwe meerdag-wedvaart oor enkele weke.
Die aandag verskuif na ‘n nuwe driedaagse wedren van 9 tot 11 Augustus op die Bergrivier van die Paarl tot anderkant Hermon in die Swartland.
Dié Push and Pull Paddle met Bamboo Warehouse as hoofborg – gemik op verskeie vlakke van deelnemers – word deur twee Matiestudente gereël om roeiers nóg ‘n Berg-ervaring te bied. Dit spog met ‘n totale prysgeld van R56 400.
“Dit is ‘n leefstyl-byeenkoms en bied ‘n totale pakket oor drie (alle etes, verblyf in tentdorpe by elke oornagplek) en volop pret, vermaak en aktiwiteite in,” het mede-organiseerder Alan Houston gesê.
“Met die ondersteuning van Bamboo Warehouse het ons baie moeite gedoen om seker te maak dat dit goeie waarde vir geld bied, juis omdat ons besef dat almal nou op soek is na waarde vir geld,” het hy bygevoeg.
Onder die deelnemers is die ervare voormalige kampioen van die Bergrivier Kanomarathon Graeme Solomon. Hy het dié nuwe wedvaart as die “nagereg” beskryf met die pas afgelope Berg as die “hoofgereg”.

Graeme Solomon


Die eerste skof oor 16 kilometer sal by die Val de Vie-landgoed begin en eindig by die Bergrivier-brouery in die Paarl, waar luukse tente en warm storte beskikbaar sal wees voordat roeiers boutiekbier kan geniet, wyn kan proe en warm etes musiekoptredes kan geniet.
Op die tweede dag sal die roeiers 35 kilometer roei na die oornagplek by die Blou Porselein-gasteplaas, waar ‘n ander tentedorp met ‘n plaaslike handwerkmark en vermaakoptredes die Saterdagaand wag.
Die laaste skof is weer doelbewus ‘n kort een oor 15km tot by Delsma, waar die prysuitdeling en middagete die drie dae sal afsluit.
“Ons verstaan dat almal gesinsverpligtinge het, so ons beoog om reeds teen die middagete klaar te wees met die prysuitdeling,” het Houston bygevoeg.
“Die nuwe wedvaart is oop vir K1- en K2-roeiers, omdat ons glo dié deel van die rivier is perfek roeibaar in ‘n K2,” het hy bygevoeg. “Diegene wat graag in ‘n K3 wil deelneem, is ook baie welkom.”
Die wedvaart sal streng tot 200 deelnemers beperk word, aangesien dit ook die maksimum kapasiteit van die tentedorpe is.
“Ons wil ook seker maak dat ons op dié manier aan elke deelnemer die beste moontlike ervaring bied,” aldus Houston.
Die organiseerders is sê hulle is verras deur die belangstelling wat deelnemers toon in die luukser opsie wat ‘n enkeltent met beddegoed, en ‘n spesiale boetiekbier-en-wynproe-pakket by die oornagpunte insluit.
“Ons wil die meeste maak van die feit dat hieride ‘n baie spesiale dele vna die land is en só geleenthede skep vir deelnemers om dit wat die Swartland en Drakenstein bied, eerstehands te ervaar,” het hy gesê.
Daar is nog tyd tot 18 Julie vir inskrywings vir die eerste Bamboo Warehouse Push and Pull Paddle.
Meer inligting is beskikbaar by www.pushandpullpaddle.co.za
Sosiale media: #PushAndPullPaddle – (Mediaverklaring)

Leave a Reply

error: Content is protected !!