Swartland Toerisme bespaar R127 000 op begroting
Swartland Toerisme het die afgelope jaar R127 169,54 op hul begroting bespaar en met ‘n netto surplus van R8 465,54 geëindig.
In die 2018/2019-begroting is daar vir ‘n verlies van R118 704 begroot.
Volgens die tesourier, Willem Badenhorst, is die besparing grotendeel toe te skryf aan bemarkingsuitgawes wat beperk is.
Van die totale begroting op bemarking van R106 000 is daar R23 047,18 spandeer.
Raadslid Marlene van Zyl van die Swartland Munisipaliteit het op die algemene jaarvergadering van Swartland Toerisme gesê die organisasie moet die fondse wat hul ontvang gebruik, om die risiko dat die plaaslike owerheid sy bydrae inkort, te verklein.
Die ander groot besparing was op salarisuitbetaling nadat die vorige toerismebeampte bedank het en die pos tydelik vakant was. Die begrote bedrag het R125 000 beloop, waarvan R98 161,47 spandeer is.