Dürr bekoor gehoor met optrede
•Johan Viljoen
Jare gelede voor ‘n ou gebou in die Klein Karoo op die tydelike verhogie langs ‘n karavaan het ‘n man voor die mikrofoon gaan staan.
Jong gesig en kitaar in die hand. Voete by mekaar.
Ons het op strooibale gesit wat daar uitgepak was.
En toe…
Toe kom daardie stem wat ek nooit sal vergeet nie.
Straks omdat dit so reglyning teen my verwagting was. Daardie stem het amper nie by die jong gesig gepas nie. Dit was eerlik en rou en het vasgeslaan in my onthou.
Of musiekpuriste toe sou dink elke noot is op die regte plek, is totaal irrelevant, want dit het eenvoudig gewerk. Die res is geskiedenis.
Vrydagaand op Riebeek-Kasteel in die La Parilla-restaurant heers ‘n heerlik gesellige atmosfeer.
Ek het die man nog nooit hoor sing nie. Hy het al baie opgetree, maar hierdie is sy eerste vol eenmanvertoning.
Skraal, met ‘n donkerrooi baadjie en breërand-hoed en ‘n kitaar neem hy plaas voor die mikrofoon.
… en met die eerste klanke kom daardie herinnering by my op.
Nee, elke kunstenaar is uniek. Punt. En nee, hulle stemme is nie naastenby eenders nie, maar net soos TJ behoort ook Pieter-Jans Dürr se klank hom nog sommer ver te neem.
Oor ‘n paar genres – goue oues, country en rock – bekoor dié jong man se stem die gehoor, wat heerlik saamkuier en sing.
Van Sinatra tot Rogers, Nelson en Cash – dwarsdeur tot die rock van groepe soos Green Day en Linkin Park.
Hy sing ook ‘n roerende lid, My Last Goodbye, wat hy vroeër vanjaar geskryf het oor die dood van sy meisie. Oor dié lied het hy onlangs in ‘n onderhoud met dié courant gesê musiek is ook terapeuties.
“Dit was soos ‘n blok, tot ek besef ek kan ‘n liedjie daaroor skryf om oor dit te kom.”
Dürr sing die treffende Vier Seisoene Kind van Gian Groen. Hy (as navigator) en Groen het onlangs saam eerste geëindig in die Celebrity Pioneer Rally van die Pionierskool op Worcester.
Hy het was ook deel van die produksie ‘n Dag in Tyd wat vanjaar vir die Woordfees op Stellenbosch bygewerk en Mathys Roets, Matthys Maree, Kevin Leo en Nic de Jager ingesluit het.
Met die 100 jaar-vieringe van die SA Biblioteek vir Blindes in Grahamstad in Junie vanjaar was hy ook deel van die produksie “Blind Date” wat op die Nasionale Kunstefees bekroon is. Onder die bekendes in dié produksie was Steve Kekana en dr. William Rowland.
Vrydagaand, ná ‘n encore, sluit hy die aand op ‘n emosionele noot af met ‘n besondere oognatmaak-weergawe van Leonard Cohen se Halleluja.
*Dürr het vertel hy tree gereeld op Saterdae op by die Swartland Straatmark by Bill & Co op Malmesbury.