Tennisster van LDU slaan jaar op hoë noot af
Die Laerskool Dirkie Uys se Willem de Waal het weer met uithalerspel vir homself ‘n plek op die podium losgespeel in die Suider-Afrika Junior kampioenskappe wat in Namibia beslis is.
De Waal, wat saam met sy spanmaats in die o.14-ouderdomsgroep sy land teen die spanne van buurlande verteenwoordig het, het die derde plek op die die podium ingeneem in die individuele kompetisie, terwyl sy span die spankompetisie gewen het.
As deel van hul voorbereiding vir die toernooi het die span vooraf ‘n oefenkamp in Pretoria bygewoon.
De Waal het verlede jaar op uitnodiging in Marokko aan die Internasionale Tennisfederasie se Somer-opleidingskamp deelgeneem.
Hy het vroeër die titels in beide die Kwazulu Natal Growthpoint Super 8 seunstoernooi in Durban en die Gauteng East Growthpoint Super 8 seunstoernooi in Benoni vir 0.12-seuns ingepalm.