Wyndruifprodusente ‘se finansies tel op’

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente se finansies begin beter daar uit sien na ʼn lang afwaartse siklus, maar die pad na volhoubaarheid lê nog voor.
Só sê die wynbedryfliggaam Vinpro in ‘n verklaring nadat hulle ‘n opname voltooi het.
Volgens die opname deur Vinpro het 28% van die deelnemende wyndruifprodusente in 2019 ʼn volhoubare wins gerealiseer, teenoor slegs 15% in 2015. Die bedryfsgemiddelde opbrengs op belegging het in hierdie tyd ook van minder as 1% in 2015 na 4.83% in die 2019 oesjaar gestyg.

Die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndruifprodusent het in 2019 ʼn netto boerdery-inkomste van R20 617/ha behaal, 37% hoër as in 2018. Hoewel die gemiddelde produksiekoste, wat kontantuitgawes en voorsiening vir vervanging insluit, teen R51 821/ha sowat 7% hoër was as in 2018, het die bruto inkomste met 14% gestyg tot R72 439/ha.

“Hierdie syfers is bemoedigend, maar dis belangrik om daarop te let dat bykans een derde van ons produsente steeds nie winsgewend is nie,” sê Vinpro se landbou-ekonoom Pierre-André Rabie. Dit beteken dat kontantuitgawes heel moontlik gedek kan word, maar dat produsente nie in staat is om kapitale items te vervang of om voorsiening vir ʼn ondernemersloon te maak nie. Dit word duidelik gesien aan die ouerwordende wingerdstand en beperkte nuwe aanplantings.
Die gestelde netto boerderyinkomste vir volhoubare wyndruifverbouing van R34 000/ha is ook steeds heelwat hoër as die huidige bedryfsgemiddeld.
Produsente het in die meeste streke wel beter pryse by die plaashek gerealiseer, maar as die reële prysinflasie oor tyd in ag geneem word, sal produsente oor ʼn geruime tyd goeie pryspunte moet realiseer voordat wingerdvervanging wesenlik kan begin plaasvind.
“Die bedryf kan waarskynlik met 5 000 tot 7 000 ha verder krimp voordat die wingerdstand begin stabiliseer,” meen Rabie.
Daar is wel groot verskille binne streke en tussen die onderskeie besigheidsmodelle, wat in ag geneem moet word.

Vinpro landbou-ekonoom Pierre-André Rabie

Wingerde word ouer
Hy voeg by dat ʼn ouerwordende wingerdstand en gepaardgaande laer produksies ʼn gevaarlig vir handelsmerkeienaars is. Dis die eerste keer in 16 jaar dat die steekproef se wingerde jonger as drie jaar minder as 10% van die totale stand opneem, terwyl dit ook die eerste keer is dat meer as 20% van die steekproef se wingerde ouer as 20 jaar is.
“Beter pryspunte oor die afgelope twee jaar het beslis daartoe bygedra dat produsente sukkelende blokke in produksie kon hou, maar sommige wingerde is bloot te oud en op sekere variëteite mag daar wesenlike tekorte in die volgende paar jaar ontstaan.”
Volgens hom is daar nou geleentheid vir wyndruifprodusente en handelsmerkeienaars om langtermyn-leweringskontrakte te sluit wat wedersyds voordelig kan wees.

“Dit sou ook sinvol wees vir handelsmerkeienaars om druiwe van ʼn verskeidenheid geografiese gebiede, en spesifiek tradisionele besproeiingsgebiede, te bekom as buffer vir wisselvalligheid in produksie vanweë reënvalpatrone. Boonop stel die nuutste tegnieke produsente in staat om hoë gehalte druiwe vir verskillende wyndoelwitte regoor die onderskeie streke te verbou.”

Herstelpad langer vir sommiges
“Die wynbedryf is siklies van aard en die wiel draai wel, maar in sekere areas net vinniger as ander,” sê Rabie. “Dit is bemoedigend dat beter pryse gehelp het om die gemiddelde produsent se winsgewendheid te verbeter en alhoewel daar werklik uitskieters in meeste streke was, is daar terselfdertyd ook regdeur die bedryf produsente wat steeds finansiële druk ervaar.”
Die Klein Karoo-, Swartland- en Olifantsrivierstreke het vir die laaste twee, en selfs meer jare swaar onder die droogte en/of die oordrageffek daarvan gebuk gegaan.
“ʼn Finansiële droogte volg altyd op ʼn fisiese droogte en vir baie eenhede gaan dit goeie reën, goeie produksies en tyd neem om te herstel. Die momentum van 2018-prysverhogings het vir sommige produsente eers verlede jaar begin deurspoel en spanderingspatrone wat ʼn funksie van kontantvloei is, sal oor tyd nog hierby aanpas.”
Vinpro voer die Produksieplan-opname jaarliks onder Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente uit om ʼn betroubare maatstaf rondom die gemiddelde winsgewendheid op primêre vlak te verkry en beste praktyke toe te lig.
Altesaam 260 wyndruifprodusente het aan die 2019-ontleding deelgeneem, wat sowat 27% van die totale wingerdoppervlak en 26% van die totale wyndruifproduksie verteenwoordig. – (Mediaverklaring)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!