Latest

Ekspo ‘het impak op toerisme’ – 19 879 besoekers

‘n Geleentheid soos die kykNET Buite-ekspo wat vroeër vandeesmaand weer in die Swartland aangebied is, het “beslis ‘n impak op toerisme vir ‘n dorp soos Malmesbury”.
dié courant het met Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete, gesels oor die impak wat hulle by die toerismekantoor op Malmesbury ervaar het.


“Wel ek kan jou een ding sê, hier het nog die Vrydag mense navraag gedoen vir akkommodasie en die beskikbare plekke was reeds vol.”

Janse van Rensburg het jare se ervaring in die toerismebedryf: “Onthou daardie besoekers besoek ook vulstasies, winkels en restaurante, selfs apteke as hulle in die dorp oorbly.”
Die amptelike syfers van die besoekers by vanjaar se ekspo is vandag bekend gemaak.
Volgens die organiseerder, Marius Opperman van Trio Events, het daar vanjaar 19 879 mense die ekspo oor die drie dae besoek.
“Ons het wel met die pas afgelope ekspo op Môreson 427 besoekers minder gehad as in 2019, maar as mens na die groter prentjie kyk, is dit minimaal as jy vandag se uitdagings in ag neem.

“Behalwe vir die verswakkende ekonomie, was die versengende hitte die Saterdag van die ekspo-naweek eintlik die grootste bydraende faktor. Maar dit is die natuur en ons vat dit soos dit kom.”
“Baie baie dankie aan al ons uitstallers, dagbesoekers, senior borge, borge, mediavennote en diensverskaffers wat hierdie geleentheid weer moontlik gemaak het.
“Ek wil ook baie dankie sê vir die puik terugvoer van ons uitstallers wat in baie gevalle rekordverkope behaal het.
“Nou sien ons uit na die 20ste Buite-ekspo landwyd wat van 31 Julie tot 2 Augustus by Sondela Nature Reserve & Spa naby Bela Bela plaasvind,” het Opperman gesê.

*Die Jimmy’s Sauces-trofeewenners vir hul uitstallings by vandeesmaand se kykNET Buite Ekspo Wes-Kaap, was:
Beste Aktivering – Buiteleweprodukte: Bushwakka
Beste Aktivering – Kuns- en Snuffelmark: Neat Things
Beste Aktivering – Senior borg/Media: Netwerk 24
Beste Aktivering – kykNET-Arena: Swartland Wynkelder
Beste Aktivering – Kosverskaffer: Fish ‘n More
Beste 4×4-Boswa: Bush Lapa se Gravel Roader
Beste 4×4-Karavaan: Infanta se Enkuku 2
Mees unieke of innoverende produk: Tuff Cats se Mbada Off Road Caravan
Beste padwoonwa: Tygerberg Caravans se Jurgens Exclusive

Leave a Reply

error: Content is protected !!