Vir ‘n vrugbare Swartlandse tuin?
Nêrens is ons nader aan ons Skepper, as in ons tuin nie. Verder kan enige tipe grond reg “GEDOKTER” word deur ‘n paar basiese dinge te doen.

In ons reeks ‘Hoe Gemaak’ kyk ons verder na die slim voorbereiding vir ‘n tuin:
- KOMPOS, KOMPOS EN NOGMAALS KOMPOS.
- Bedek jou beddings met ‘n deeglike grondkombers (mulch).
Hoekom praat ons van ‘n grondkombers?
Deur die gebruik van organiese produkte soos kompos, boombas, houtsplinters, perske- en/of appelkoospitte, verrotte strooi of dennenaalde, bedek ons die grondopper-vlak met ‘n ‘kombers’ wat baie positiewe eienskappe het:
Dit hou die grond koel, dit beperk die verdamping van vog uit die grond – tot 70%, dit onderdruk die ontkieming en groei van onkruid, verhoed grond-kompaktering, beperk die vinnige afloop van water, bekamp gronderosie deur wind en water en dit kan ook jou tuin mooi en meer afgerond laat lyk.
Maak “mulch” deel van jou tuin en onthou om die beddings gereeld (minstens jaarliks) op te top.
Ander produkte soos rivierspoelklip of gruisklip kan ook gebruik word. Dit is dalk op die korttermyn duurder, maar dit hou baie langer. - Plant in die regte seisoen.
In die winterreënvalgebied is die beste tyd om te plant die herfs & vroeë wintermaande (Maart tot Junie).
Die weer is meer gematig en die vooruitsig vir lekker reën is altyd daar. Die plante kry ‘n beter kans om hul wortels sterk te vestig voordat die droë warm weer begin.
Onthou, al groei ‘n plant nie sigbaar bo die grond nie, sy wortels bly groei om homself sterk te maak vir die kwaai somer wat voorlê. - Maak jou tuin reg nat.
Die meeste van ons gee ons tuine te veel water! Slegs ‘n baie klein groep plante wil gedurig met “nat voete” staan. Daar word vir seker miljoene liters water vermors deurdat ons nie reg besproei nie:
Die eerste belangrike ding is om te bepaal watter tipe grond jy in jou tuin het: sand; leem of klei.
Die waterhouvermoë van elke tipe verskil drasties. Hoe baie en hoe gereeld om nat te maak, sal bepaal word deur die tipe grond, asook die groepering van plante. Pas jou besproeiing aan om aan dié behoeftes te voldoen.
Hoe weet ek wanneer my tuin water nodig het?
• Krap met jou vinger in die grond of gebruik ‘n vogmeter.
• Indien die boonste 5 tot 8cm droog is, maak deeglik nat.
• Maak deeglik nat, ± 10mm water.
• MOENIE BIETJIE-BIETJIE NAT MAAK NIE !!!!
• Die beste tyd is vroegoggend of indien dit nie anders kan nie, laat namiddag/vroegaand, maar nooit op die hitte van die dag of wanneer sterk winde waai nie.
• Daar kan ook dammetjies om struike en bome gemaak word.
• Handstelsel of besproeiingstelsel?
‘n Goeie besproeiingstelsel kan baie water spaar indien dit reg geïnstalleer is en die besproeiingstye reg geprogrammeer is.
Om met die hand nat te maak, kan baie terapeuties wees indien jy tyd het, maar dit is nie ‘n baie sinvolle manier om jou tuin te besproei nie.
Sterkte met die tuinmaak.
Tuingroete
George Retief