Latest

Malmesbury kry optiese vesel – 1ste huise binne ‘n maand

Johan Viljoen
Die tafel is gedek vir toegang tot hoë spoed optiese vesel-internet vir huishoudings in Malmesbury en die eerste huise kan reeds binne die volgende maand van dié tegnologie begin gebruik maak.
Anders as op die meeste ander dorpe en stede in die land, word dié netwerk deur ‘n plaaslike maatskappy uitgerol. Cornergate se Pieter van der Westhuijzen vertel aan dié courant dat hulle vandeesweek begin met die aanlê van die netwerk na Tafelzicht.

Dié woonbuurt sal eerste aan die beurt kom as fase een en dit behoort tussen twee tot drie maande te neem om te voltooi. Maar die eerste huise kan reeds binne ‘n maand aangeskakel word, as als volgens plan verloop.
Die volgende fase is Panorama en so sal die ander woonbuurte volg met ‘n vooruitskatting dat die 10de fase binne die volgende 18 maande voltooi sal wees.
Dit sal ‘n oop netwerk wees, wat beteken wanneer die hele dorp se fases voltooi is, sal tientalle ander diensverskaffers dit ook kan gebruik om internet aan kliënte te verkoop.

Die aansluiting sal internettoegang van tot 1 Gigagreep per sekonde bied.
Een diensverskaffer, Flynet, sal wel die optiese vesel-diens intussen lewer terwyl die fases voltooi word en daar seker gemaak word die hele netwerk is operasioneel voor die netwerk opgestel word.
Pakette vir verbindings tot 200 megagrepe per sekonde (Mbps) sal beskikbaar wees.

Van der Westhuijzen vertel dat hy in 1997 die behoefte vir internetverbinding vir klein ondernemers en tuisgebruikers raakgesien het ‘n nuwe onderneming, West Coast Access CC, op die been gebring het.
Die fokus was op klein ondernemings en tuisgebruikers met ‘n inbelnetwerk. Hul het gebruik gemaak van ‘n diginet-datalyn van Malmesbury na Kaapstad met hul eie eindpuntinfrastruktuur en bedienerkamer waar kliënte kon skakel. Die spoed was toe ’n “vinnige 14 grepe (bits) per sekonde”.
“Nou kry ons kliënte met aansluitings van 1 000 000 000 grepe (bits) per sekonde of 1 Gbps!
“Vanweë die vraag het ek destyds my kundigheidsgebied uitgebrei na wifi-netwerke. Met veranderings in wetgewing in 2006 waardeur internetverskaffers selfvoorsienend kon raak, het ek reeds die kundigheid gehad om die fokus van die maatskappy te verander van ‘n suiwer internetverskaffer na ‘n data- en konnektiwiteitsverskaffer.”

Hy het oor die jare groot aansluitings en dienste ontwerp en geïnstalleer.
Hy vertel Cipla Pharmaceuticals, ‘n belangrike rolspeler in die Suid-Afrikaanse farmaseutiese veld, het hom onder andere genader om punt-tot-punt-dataskakels vir hulle te ontwerp en te installeer.
Hy het ook die ontwerp en konfigurasie vir die datanetwerk vir die kameras wat die N2, M4 en M5 in Kaapstad dek, gedoen asook stadionwye wifi-punte vir Computicket by die Wêreld Sewestoernooi in George.
West Coast Access CC is onlangs na ‘n maatskappy omskep weens internasionale belange. Daar is drie aandeelhouers.

Die kabel waarbinne die optiese vesel is, is ongeveer 1cm dik en daar sal mangate op die sypaadjies met groot wit deksels op die hooflyn en met kleiner groen deksel tussen elke twee huise saam met die kabel begrawe word.

Die kontrakteurs wat die konstruksie en aanlê van die netwerk doen, is Marturia. Eienaar Stiaan Carstens vertel dat hulle reeds optiese veselnetwerke vir kliënte in Wellington, Paarl, Worcester en Kampsbaai gedoen het.

Inwoners kry die geleentheid om tydens die konstruksiefase per buurt nie vir die aanlê van die netwerk na die huis te betaal nie. Installasiefooi is dan gratis. Wanneer die kontrakteurs na die volgende fase/buurt skuif, sal die installasiefooi vir maand tot maand-gebruikers in die voltooide buurt R2400 beloop.
Flynet se maandelikse tariewe vir tuisgebruikers (nie besigheidspersele) is soos volg:
tot –
10Mb/s aflaai en 5Mb/s oplaai – R505/maand
20Mb/s aflaai en 10Mb/s oplaai – R699/maand
50Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R850/maand
100Mb/s aflaai en 25Mb/s oplaai – R999/maand
100Mb/s aflaai en 100Mb/s oplaai – R1399/maand
Groter pakette is beskikbaar op aanvraag.
Installasie is gratis vir 24 maande-kontrakte.
Vir enige aansluitingsnavraag skakel 060 999 9514.

Leave a Reply

error: Content is protected !!