Die gee oor grense heen is rede tot hoop
Johan Viljoen
Terwyl die amptelike Covid-gevalle styg, te midde van al meer vrae oor akkuraatheid en effektiwiteit van grendeltyd, neem ook die aantal honger mense toe.
In die Swartland en Bergrivier, volgens die provinsie se jongste syfers van vandag (en dié courant kan die akkuraatheid daarvan ook nie bevestig nie, omdat die provinsie se syfers soms wissel) is daar tot datum onderskeidelik 36 (Swartland – 16 het al herstel) en 18 (Bergrivier – 5 het al herstel) bevestigde gevalle.
Dit is ‘n druppel aan die emmer (en ja, hierdie getalle gaan inderdaad volgens vooruitskattings in die komende weke nog drasties styg) vergeleke met die aantal mense wat honger is en in rye moet staan vir ‘n koppie sop en ‘n snytjie brood of ander kos.
Die impak van die grendel op die ekonomie en mense se kosnood is baie groot.
In die Weskus, soos ander streke, moes die gemeenskappe groot noodverligtingsaksies van stapel stuur om uit eie geledere fondse en produkte te bekom om honger mae te vul. Dit is genoodsaak omdat, te midde van ingrypende inperkings deur die regering, die owerheid se bydrae tot voedselverligting bykans onnoembaar klein is.
Tienduisende mense in die streek – oud en jonk – wat nie kos het of kan koop nie, kry twee of drie keer per week kos uit aksies wat gekoördineer word in samewerking met plaaslike owerhede en diensorganisasies.
dié courant het gister by een verspreidingspunt in Alfastraat op Malmesbury weer gesien hoe mense in rye op die sypaadjie sit om kos te ontvang by ‘n bewaarskool wat as verspreidingspunt dien.
Elkeen word aangesê om ‘n veilige afstand te hou en ‘n masker te dra en elkeen se temperatuur word geneem en handreiniger word gespuit alvorens hulle die kos ontvang.
Pastoor Marius Brink van die Horeb Pinkster Internasionale Kerk vertel dat hulle gister by Babbel Krabbel Bewaarskool aan 284 mense, waaronder 114 kinders, ‘n ete gegee het.
“En die getalle neem toe,” bevestig hy.
Dit is nodig om aan elkeen in die streek wat ‘n bydrae – groot of klein – maak in die noodverligting, te bedank vir hul hulp om dié groeiende humanitêre krisis te help verlig.
Daar is organisasies wat al groot bedrae geld bewillig het, maar daar is ook talle ander wat produkte en gewillige hande en kombuise beskikbaar stel om die nood te help verlig.
Plaaslike owerhede en amptenare en leiers oor die spektrum werk – verskille ten spyt – baie hard om as’t ware die streek se kospot op ‘n manier aan die kook te hou, en dit verdien ‘n spesiale saluut.
Midde die donker en negatiewe realiteit en al die honderde vrae oor of skole en sake moet open en wat die impak daarvan werklik op gesondheid en sterftesyfers gaan wees, is die een groot ligpunt steeds die saamstaan en goedhartigheid van ons mense.
Hier word gegee oor grense heen en dit is rede tot hoop.