LatestSchools

Oud-kollegas bring hulde aan Hannes Knoetzen

Ná die heengaan van Hannes Knoetzen, ‘n geliefde onderwysman uit die Swartland, vroeër vandeesweek, onthou twee oud-kollegas die diep spore wat hy getrap het.

Huldeblyk Aan Hannes Knoetzen
(8 Februarie 1945 – 25 Mei 2020)

Christiana Blom skryf:
Hannes Knoetzen, geliefde oud-onderwyser en adjunkhoof aan Hoërskool Swartland se afsterwe, laat ‘n groot leemte in die gemeenskap.
Hy was nie net ‘n legende as wiskunde-onderwyser nie, maar ook op sportgebied het hy sy stempel by Hoërskool Swartland afgedruk as afrigter van die eerste rugbyspan en op die atletiekveld.
Hannes was menige onderwyser se mentor en vandag is daar ‘n klomp onderwysers op die huidige personeel wat onder sy mentorskap baie wyse dinge geleer het.

Dit wat ek van Hannes op my pad vorentoe vat, is sy voorbeeld as Christen en dat hy elke dag dieselfde was. Hy was ‘n ware “gentleman” teenoor dames en “soft spoken”, maar was onverbiddelik as dit by regverdigheid kom.
Ek sal ons sporttoere nooit vergeet nie: Sportweni met die groot Nissan-bus, Rustenburg met die Lego-bus wat hy die laaste nagskof van bestuur gekry het. Toe daardie oggendson opkom, kon ek daardie groot oë van hom halfmas sien knip van moegheid -altyd gewillig om die kind te dien.
Ek kan onthou as jong onderwyseres het ek ‘n broertjie dood gehad aan inspeksies wanneer ons die buitebeeld so moes poets, want dit was vir my so vals. Ek maak my mond eendag oop daaroor en Hannes sê so droog: As jou “window dressing” sleg lyk, dan moet jy weet hoe sleg lyk die werklike.
Ek kan nie anders om ons “Vier Jannies en ‘n Sannie-groep” te vermeld nie: Hannes met sy kitaar, Dave, Rian, Eckard en die uwe (Sannie). Buano Sera Senorita en Good night Eileen sal altyd gegrif wees in my herinneringe, ingekleur met die mooi onthou van ‘n groot boom in die onderwyskorps wat afgekap is. Jy leef voort in die anale van ons skool. Ons salueer jou.

Gary Jordaan skryf:
It is with heart felt sadness that I recently heard of the passing of Hannes Knoetzen, a legend at Swartland High School, a mentor to many young teachers, a father figure to many learners and a friend to us all.
Hannes sal onthou word as ‘n uitstekende onderwyser. Hy was lief vir sy vak, Wiskunde, en het die vermoë gehad om dit op ‘n baie verstaanbare manier aan die leerders oor te dra. Hy was ‘n entoesiastiese sportafrigter en het talle skooltoere en sportbyeenkomste gereel. Hy was ook ‘n man vir die kultuur en het ‘n groot deel bygedra tot die ontstaan van die Interskole-temalied “Jordan’s Army”.

As my adjunkhoof vir baie jare sal ek vir Hannes onthou vir sy vermoë om ‘n moeilike situasie op ‘n beredeneerde en kalm wyse op te los. Hy was ‘n uitstekende klankbord en iemand met wie jy vertroulike inligting kon deel. Sy wysheid was vir my altyd ‘n bron van inspirasie en sy gesegdes soos “you make the bed in which you lie” en “look before you leap” sal ek altyd onthou.
Sy besondere bydrae tot die geskiedenis en tradisies van Swartland Hoërskool sal voortleef in die harte van almal wat die voorreg gehad het om hom te kon ken.

Hannes en Petro is verenig by ons Hemelse Vader vir wie hulle altwee so ontsettend lief was.
If you seek his monument you will find it on the playing fields, in the classrooms as well as embedded in the rich Rockie traditions of Swartland High School.
Rus in vrede my ou kollega en vriend.
My innige meegevoel aan Hannes se familielede. Mag ons Hemelse Vader julle die nodige krag gee tydens hierdie baie moeilike tyd.

Leave a Reply

error: Content is protected !!