Vloot se duikboot besoek Yzerfontein
Inwoners van die Weskus en Yzerfontein het vanoggend ‘n ongewone besoeker opgemerk.
Bekroonde fotograaf Geo Cloete het hierdie foto aan dié courant gestuur.
By navraag het die operasionale kommunikasiebeampte van die Suid-Afrikaanse Vloot, kapt. Jaco Theunissen, aan dié courant gesê die duikboot is ontplooi om die grense te beskerm.
“Die beveiliging van die land-, lug- en seegrense vorm deel van die mandaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
Die duikboot is dus besig met maritieme grensbeveiliging met die volgende doelwitte:
• Die beheer van onwettige verkeer van mense en goedere oor die RSA se internasionale grenslyne
• Die inhegtenisname van en beslaglegging op onwettige mense en goedere
• Die Beskerming van die RSA se marienehulpbronne teen onwettige/ongelisensieerde plaaslike en buitelandse stropersindikate,” het hy gesê.
Theunissen het gesê dit is beleid om nie meer nader besonderhede bekend te maak nie.
Die nommer op die duikboot lees S101, wat beteken dit is die SAS Manthatisi, vernoem na dié koningin van die Batlokwa-stam. Sy was ‘n gevreesde militêre en politieke leier van haar tyd.
Dié Tipe 209/1400 duikboot van 62 meter lank is deur die Duitse skeepsboumaatskappy Howaldtswerke-Deutsche Werft in Kiel gebou en op 15 Junie 2004 te water gelaat.