Agri/BusinessLatest

R480 000 SA-rekord vir Hereford van Locheim

Die Locheim Hereford-stoetery van Willem de Waal en Seuns van Moorreesburg het op die 35ste Swartland Veeboereveiling die duurste Hereford-bul vir ‘n nuwe SA-rekordprys van R480 000 verkoop.
Dié bul, Locheim Babilon (Locheim WDW 170083 – SP) van ‘n raps oor die drie jaar, was ook die kampioenbul op die Agri-Expo Livestock verlede jaar by Sandringham.
Locheim beskik reeds jare oor van die beste genetiese materiaal in die land en met dié SA-rekordprys opnuut hul prestasierekord van die afgelope klompie jare bevestig.

Philip de Waal het vroeër gesê hulle het destyds besluit op die Herfords oor die uitstekende vrugbaarheid en voeromsetverhouding van hierdie merkwaardige beeste.
Na aanleiding van die veiling het hy aan dié courant gesê dit was ‘n baie goeie veiling “vir die tye waarin ons is.”
Locheim het ook die ou SA-rekord gehou met ‘n prys van R360 000 wat nou tot R480 000 verbeter is.
Nog ‘n bul van Locheim wat die tweede hoogste prys op verlede week se veiling behaal het, was Locheim Masterpiece (27 maande) wat vir R140 000 van die hand gesit is. Die koper was Griffin Herefords van Dargle in KwaZulu-Natal.
De Waal sê Locheim Babilon is baie korrek gebou en “die regte tipe wat mense soek”.
Hy voeg by dat die veiling die beste pryse sedert 2013 opgelewer het en dat al die diere (84 lotte) verkoop is.

“Daar is ‘n oplewing en ‘n mens kan sien die landbou is besig om kop op te tel.”

Locheim Babilon is op die GWK-veiling gekoop deur die Lodewyk Fourie Trust van Schweizer-Reneke vir die Lizana Stoet.
Die afslaer was Theuns Visser.
Die eienaar van die Lizana Stoet, Lodewyk Fourie, sê aan dié courant dit is ‘n besondere bul. Al het mens altyd te veel betaal, is dit ‘n top-bul met baie goeie genetika.”
Hy vertel hy het die stoet 34 jaar gelede begin. Hy het ook met die Herefords se 100ste bestaansjaar wat drie jaar gelede op Moorreesburg gehou is, ‘n bul vir R240 000 gekoop.

Leave a Reply

error: Content is protected !!