Lucey se produksie by Rata skuif na Februarie
Die produksie van Roger Lucey How to Build a House in the Mountains by die Royal Arts Town-amfiteater is weens Covid-regulasies uitgestel na die naweek van 12 en 13 Februarie.
Besprekings is nou aanlyn oop op www.artstown.co.za of bel 082 851 1262.
Met die vlak 3 Covid-regulasies wat tans geld en die aandklokreël was die Royal Arts Town-amfiteater verplig om hul huidige somerseisoen in heroënskou te neem.
Ná ‘n meningsopname onder ondersteuners en teatergangers en onderhandelinge met akteurs het teaterdirekteur Mark Graham-Wilson aanpassings aan die program aangekondig.
Met die opname het die oorgrote meerderheid van die respondente gestem dat daar wel voortgegaan word met vertonings, en wel om 18:30 (in daglig sonder teaterbeligting) in plaas van die 20:15 (na sonsondergang, met beligting), om aan die aandklokreël te voldoen.
Omdat sommige van die produksies uitgeknip is vir spesiale beligtingseffekte is hulle na die volgende somerseisoen wat in Oktober begin, aangeskuif.
As u vir een van Lucey se vertonings in Januarie aanlyn bespreek het, sal u gekontak word om u kaartjies na een van die vertonings in Februarie oor te dra.
“RATA is gestig om teater veilig in die buitelug aan te bied.
“Dit bly ons prioriteit,” sê Graham-Wilson.
“Ons mag tot 20:00 saans tot 100 teatergangers hê met die nodige Covid-maatreëls. Dit sluit die nodige afstand, die dra van maskers te alle tye, die ontsmetting van hande en die nodige kontrolering van temperature in.
“Niemand word toegelaat om optredes sonder ‘n masker by te woon nie en die nakoming van die nodige afstand is ononderhandelbaar.
“RATA is baie ernstig in ons aksies om by te dra tot die redding van die uitvoerende kunstebedryf wat ‘n ernstige knou toegedien is.
“Elkeen wat ‘n kaartjie koop, dra by tot die voortbestaan van die kunste en waarskynlik die enigste inkomste wat die kunstenaar in byna ‘n jaar ontvang het.
“Ons het die grootste respek vir ons gehoorlede wat vir eers byeenkomste vermy en sien daarna uit om u terug te verwelkom, hopelik in die nie te verre toekoms nie.”
*Besprekings is nou aanlyn oop op www.artstown.co.za of bel 082 851 1262.