Agri/BusinessEntertainmentLatest

Varsnuwe spyskaart omarm plaaslike geure

Jy hoor en sien hier woorde soos ‘n keiappel-drankie en -konfyt, spekboomsop, askoek, krummelpap, wilde knoffel, bokkom, brandnetel en braaibroodjie (met ‘n heerlike kinkel), kelp en veldpiekels. Ineengevleg met bekendes soos spinasie, mossels, geelstert, plaasbrood en die baie gewilde elandburger, is die wagwoord hier “uit ons eie tuin en die omgewing”.
Langs die Weskuspad naby Yzerfontein lê een van die juwele van die Swartland.

Hier word erfenis en ruimte met ‘n verskeidenheid dagaktiwiteite, akkommodasiemoontlikhede en buitelewe en sportaktiwiteite gepaar met ‘n vriendelike ontvangs en ‘n splinternuwe watertandspyskaart met vars en eg plaaslike produkte.
dié courant het by !Khwa ttu gaan gekuier.
!Khwa ttu, bekend as “The Embassy of the San”, is jare gelede op die plaas Grootwater gevestig en vandaar die naam !Khwa ttu, waterpan.
Inperking het ‘n groot impak ook op !Khwa ttu gehad en, vertel hoofbestuurder Michael Daiber, hulle het besluit om die tyd te gebruik om nuwe dinge – nuwe roetes en ‘n nuwe spyskaart – te ontwikkel.

Eie aan die realiteit van hierdie tyd om plaaslik te ondersteun en nader aan die grond gesond te leef, waai daar nou ‘n splinternuwe plaaslike geur met ‘n erfenisondertoon deur !Khwa ttu se kombuis en spog hul nuwe bistro-stylspyskaart met unieke geregte.
Die jong sjef Werlise Rautenbach deel met ons haar passie vir unieke, gesonde, vars bereide plaaslike disse. Uit hul tuin en uit die veld. “As dit nie op die plaas groei of wei nie, sal ons ‘n plaaslike produsent of verskaffer wat ons visie deel, kry om die nodige bestanddele te voorsien.”
Vir die soettand met middagete is daar nóg watertand kombinasies. Onder andere kaaskoek – gebak en TOE geklop, pampoenkoekies en pampoensaadbros of ‘n gekaramaliseerde vla met malva.

Vars plaaseiers elke oggend uit die spesiale neste, (hier bekend as ‘Hotel Verdi’, vertel gids Nunke Kadhimo ons) is perfek vir ‘n heilsame ontbyt met opsies soos geposjeerde eier en duinsalie of romerige roereier, elandwors, gerookte geelstert of heuning en saad-granola.
Om getrou te bly aan die streek en die siesoene, sal die spyskaart ook van tyd tou tyd effe wissel en ontwikkel. Rautenbach wys ‘n foto van die skaars koekmakranka in die veld op haar foon.

Ons gesels oor produkte uit die streek en al is drankverkope nou taboe, praat ons oor die Charles Withington Darlington Gin wat iets van die unieke geurvolle koekmakranka bevat.
En wie weet, dalk is die besondere geure van koekmakranka ook een van die dae in seisoen te proe iewers op die spyskaart by !Khwa ttu.
Aan ontbyttafel met ons kuiertjie op ‘n einde, loer die immervriendelike en hulpvaardige Baby-Rose Vilander, jarelange steunpilaar by !Khwa ttu, in en maan: “Julle moet nie vergeet om te kom groet nie.”
By !Khwa ttu laat hulle jou tuis en sommer half deel van die familie voel. Weer en weer kom, is ononderhandelbaar.

  • Die museumuitstallings by !Khwa ttu is modern en vriende wat al die wêreld oor gereis het, Clifford en Maryke Roberts, beskryf dit as wêreldklas. Die gidse wat ons begelei, Nunke Kadhimo en Kerson Spafer Jackson, is vriendelik en ook besonder passievol oor hul werk, !Khwa ttu en die Sankultuur. Hul vertellings is vars en interessant. Daar is tans vyf toere beskikbaar – een vir elk van die moderne museumuitstallings, ‘n tee- en kruietoer asook ‘n spoorsnytoer. Eersgenoemde drie kan ook op eie stoom gevolg word.
  • !Khwa ttu bied ook pragtige stap- en fietsroetes – van maklik tot uitdagend – deur die besondere natuurskoon waar wild soos elande, sebras, springbokke, bontebokke en volstruise wei.
  • Daar is ook verskillende akkommodasieopsies soos ‘n gastehuis of boskamp.

*Die Switserse antropoloog Irene Staehelin het in 1999 die plaas langs die Weskuspad gekoop vir die !Khwa ttu-projek nadat sy ‘n paar jaar tevore met die San-kultuur kennis gemaak het. Die behoefte vir so ‘n sentrum waar die San-gemeenskap hul eie mense kon oplei om hul kultuur aan die toeriste en die wêreld te wys, is destyds deur die Werkgroep vir Inheemse Minderhede in Suider-Afrika (Wimsa) raakgesien.

Besoek gerus !Khwa ttu se webwerf by www.khwattu.org, of !Khwa ttu facebook of skakel 022 492 2998.

Leave a Reply

error: Content is protected !!