Tussenverkiesing kom op Moorreesburg
Met die munisipale verkiesings wat vir 27 Oktober vanjaar geskeduleer is, moet elke munisipaliteit ‘n nuwe raad met wyksraadslede en proporsionele lede kry.
Intussen het daar ook ‘n vakature op die raad van die Swartland Munisipaliteit ontstaan nadat raadslid Clive Papers van die DA onlangs bedank het as raadslid vir wyk 2.
In terme van wetgewing moet daar binne 90 dae ‘n tussenverkiesing gehou word. Wetgewing bepaal ook dat daar nie tussenverkiesings gehou word as ‘n vakature ontstaan binne die ses maande wat ‘n algehele munisipale verkiesing voorafgaan nie, maar die bedanking was reeds einde Maart.
Soos sake tans staan, sal daar dus wel op 30 Junie ‘n tussenverkiesing vir wyk 2 wees.
Die registrasienaweek vir die kiesers is geskeduleer vir 22 en 23 Mei.
Die Swartland bestaan uit twaalf wyke wat elk deur ‘n raadslid verteenwoordig word. Die Raad het ‘n totaal van 23 raadslede, waarvan 12 as wyksraadslede verkies word en 11 wat proporsioneel aangewys word volgens die stemme en die partye se proposionele lyste.
Papers het in 2016 wyk 2 op Moorreesburg met die twee stemlokale (Gemeenskapsaal en Koringbedryfmuseum) gewen toe hy 1195 stemme getrek het. Die ANC was die naaste teenstaander met 936 stemme.
Papers (63) was ook ‘n verteenwoordigende raadslid op die Weskus Distriksmunisipaliteit en dié posisie het ook vakant geword.
Hy was destyds die vierde en laaste verteenwoordiger op sy party se lys vir afgevaardigde raadslede na die Weskus Distriksmunisipaliteit.
Die Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) versoek om vanaf die aanvullende lyste ‘n afgevaardigde aan te wys.
Die OVK het goedgekeur dat raadslid Cornelle O’Kennedy voortaan as raadslid op die WKDM sal dien.