Swartland klub onderneem foto-uitstappies
Op die Swartland Fotografieklub se maandbyeenkoms op Malmesbury het die beoordelaar ‘n foto van Theuns Olivier van Tzaneen as die algehele wenfoto van die maand aangewys.

Dié werk van Olivier (Bell Park Dam Central Drakensberg) was ook die wenner in die afdeling vir senior fotograwe.

Vandeesmaand se tema was voëlfotografie. Van die klublede het ‘n foto-uitstappie na Voëleiland by Lambertsbaai onderneem. Olivier het ook die beste in dié afdeling gevaar met sy foto Europese Troupant.

In die afdeling vir junior fotograwe (1 tot 3 ster-gradering) het Hersia de Jager die louere ingeoes met haar foto Tog so cute.

Nog ‘n foto van De Jager (Gompou) en een van Celine Janse van Rensburg (Sunset Gaze) was die naaswenners met dieselfde punte as die wenfoto.


In die afdeling vir selfoonfoto’s het Adriaan Vlok die beste gevaar met sy foto Mykonos.

Die beoordelaar Bennie Vivier het gesê die kwaliteit van die selfoonfoto’s is van so ‘n goeie standaard dat hulle teen die ander digitale foto’s kan meeding.

Met die oog op sy sterrefotografietema vir Julie beplan die klub astrofotografie-uitstappies in Junie en Julie.