Malmesbury Toutrek bied klubkampioenskappe aan
Toutrekpaaie lei Saterdag na die Swartland wanneer die Malmesbury Toutrekklub die gasheer is vir die Suidelike klubkampioenskappe van die Suid-Afrikaanse Toutrekfederasie (SATF).
Die kampioenskappe vind op die Malmesbury Skougronde plaas en klubs van al die suidelike streke sal sake uitspook. Dit sluit distrikte soos Eden, Overberg, die Kaapse Metropool en die Wynland in.
Dié klubkampioenskappe is die voorloper vir die Nasionale Klubkampioenskappe later vanjaar wat ook aan Malmesbury toegeken is.
Rentia van den Berg van die Malmesbury Toutrekklub sê die nasionale keurders sal ook kom om die atlete te kies vir die wêreldkampioenskappe wat vir September in Spanje geskeduleer is.
Die SA Presidentspan is tans besig met voorbereidings om Suid-Afrika in Julie by die Afrika Kampioenskappe in Swakopmund, Namibië te gaan verteenwoordig.
Volgens plan sal ‘n SA Ontwikkelingspan in Oktober in Turkye toer en ‘n Duitse toerspan word vroeg aanstaande jaar in Suid Afrika verwag.
Weens die Covid 19-regulasies sal daar geen toeskouers toegelaat word nie.
Enige navrae kan gerig word aan die organiseerder Rentia van den Berg by 060 508 5144.