Smith debuteer met ‘My Sandveldbos’
Die debuutbundel getiteld My Sandveldbos van Sandvelder en reeds lank ‘n inwoner van die Swartland, Andre Smith, het pas verskyn.
Smith, wat deesdae op Riebeek-Kasteel woon, vertel in dié bundel met kontreistories en rubrieke vier hy sy liefde vir sy mense.
Sy “komvandaan” is die “klein dorpie Redelinghuys in die hartjie van die Sandveld.
“As jong seun was ek versot daarop om in die veld, bossies en koppies te gaan stap. Hier kon ek vry wees en droom oor eendag. Dis hierdie einste droom oor eendag wat geboorte geskenk het aan hierdie debuutbundel van my. Wat ‘n voorreg!”
Smith is aan die woord:
“Ek is vir meer as 20 jaar betrokke by die ontwikkeling/ontginning van ons kinders en jeug se inherente potensiaal by verskillende organisasies en instansies in Suid-Afrika asook oorsee. Ek het my têrsiere opleiding aan die Hugenote Kollege in Wellington voltooi. Naas my voetspoor wat ek plaaslik in die harte van kinders en jongmense laat, het my passie en liefde vir my werk en roeping my ook al na die VSA, Suid-Korea, Namibia en Swede geneem.
“Ek beskou myself as ‘n persoon met ‘n opregte omgeehart vir kinders en jongmense, maar ook vir mense in die algemeen. Vir die eerste vier dekades van my lewe het ek letterlik alles vir my beroepslewe gegee, maar met die aanbreek van die COVID-19 pandemie kon ek uiteindelik weer my tyd en aandag bestee aan skryf – ‘n liefde en passie wat ek vir jare moes onderdruk vanweë my werksverpligtinge.”
Hy skryf tans rubrieke vir ‘n paar streekskoerante en is ook korrespondent vir ‘n aanlyntydskrif.
“My Sandveldbos bevat kontreisketse waarin ek my liefde vir my mense van die klein dorpie Redelinghuys in die Sandveld/Weskus vier. Hierin gee ek erkenning aan die “unsung heroes” in my lewe. Die mense van my streek wat so ‘n wesenlike impak op my vorming as mens gehad het en steeds het.
“My kontreisketse sowel as rubrieke, glo ek, sal die leser laat lag, soms laat wonder, dan weer terug neem na tye en plekke van mooi herinneringe. Op ‘n deernisvolle wyse wil ek jou, die leser, deel maak van die mense, plekke, name en stories wat eie is aan die Sandveld en Weskus. My sketse en rubrieke het ook ‘n universele aanslag. Of jy ook van ‘n klein plattelandse dorpie afkomstig is en of jy tans in die stad woon, sal jy iets in my boek raaklees wat jou daai oom of antie sal laat onthou. Jy sal ook in herinnering roep die name, byname, plekke, oomblikke en dinge wat jou met n nuwe stuk waardering en liefde vir jou komvandaan sal laat. “
Oor My Sandveldbos sê die bekende skrywer/digter Diana Ferrus: “Wat meer wil ‘n mens hê van ‘n kontreibundel? Wanneer jy Andre Smith lees weet jy jy gaan lees om nie te wil stop nie. Die kontrei word inderdaad vasgepen, blootgelê deur die skrywer se fyn oog, die landskap kom lê in mens se hart, elke struik, korreltjie sand, die koppies word jou metgesel in hierdie stories. En die kersie op die koek is die “perfek getekende” karakters so bekend, so na aan die hart, so kostelik wat in elke storie opduik! Voorwaar baanbrekerswerk deur Andre. Uitstekend! ‘n Moet lees!!”
My Sandveldbos is beskikbaar in hardeband of sagteband. Kontak Smith by 083 308 9165 of by arniesmith@gmail.com