By Rockie-spens ‘gee ons met die hart’
In ‘n tyd van nood, dikwels op ons eie voorstoep en binne ons eie naby subgemeenskap, bring ‘n nuwe inisiatief by Die Hoërskool Swartland (Rockies) ‘n boodskap van hoop en omgee vir mekaar.
Die skool het reeds vir jare ‘n Interact-groep wat uitreik om ‘n verskil te maak.
Nou, met anderhalfjaar wat die wêreld reeds onder ‘n pandemie gebuk gaan, het die nood vir die basiese, ook binne die skoolgemeenskap, opnuut in die kollig gekom.
‘n Nuwe inisiatief is begin om ‘n Rockie-spens te skep van waar daar kruideniersware-pakkies aan behoeftige Rockie-gesinne voorsien kan word.
En die projek, wat maar eers onlangs van stapel gestuur is, is reeds ‘n groot sukses.
Die leerders, tans onder leiding van Thomas van Wyk en me. Bianca Turner, word aangemoedig om ‘n verskeidenheid nie-bederfbare produkte vir die spens te skenk.
In ruil daarvoor kan die skenkers dan op ‘n vasgestelde dag hul skoolklere vir “civvies” verruil.
“Ons is baie dankbaar,” sê van Wyk, “dat die skoolhoof ons projek ondersteun met die toelaat van “civvie-dae” wanneer die dissipline maar ‘n bietjie slapper is.”
Turner sê die fokus is op verantwoordbaarheid en sy is verras oor die oorweldigende reaksie uit die skool se geledere.
‘n Stoorkamer is vinnig as spens ingerig en daar word letterlik honderde produkte uitgepak en gesorteer.
‘n Groep leerders doen al die werk om die produkte te sorteer en weer die pakkies te pak.
Die administratiewe kantoor is in beheer van die identifisering van die behoeftige gesinne en pasgemaakte pakkies word dan anoniem verpak en elke twee weke afgelewer.
Vir die komende vakansietyd is daar selfs ‘n klompie “lekkernye” ingesamel vir ‘n klein bederf.
Van Wyk (Graad 9) het elkeen wat mildelik bydra tot die sukses van Rockie-spens bedank.
“Met elke insameling raak die skenkings net meer. Ons sal graag, soos dit uitbrei en moontlik raak, ook aan meer mense wil begin gee, maar ons is nou maar in die begin.
“Vir hierdie projek gee ons nie met ons brein nie, maar met ons hart,” voeg hy by.