Onbeskryflik, sê Arendse oor wêreldspelekanse
Ek kan nie vir jou beskryf hoe baie dit vir my beteken, sou ek die span maak nie.
Só gesels Malmesbury se Bradley Arendse nadat hy pas die SA Oorplantingsportvereniging se kwalifiseringstyd (400m) vir die Wêreldoorplantingspele aanstaande jaar in Perth, Australië geklop het.
Arendse, ‘n fikse en kranige sportman, vertel die kwalifiseringstyd vir die 400m is 1:04,55 en hy het die afstand Saterdag in Bellville se Velodrome in 1:04,07 afgelê .
Hy neem tans in die ouderdomsgroep van 29 tot 39 jaar deel.
dié courant het vroeër berig oor Arendse se nieroorplanting in 2019 waarna hy binne maande weer begin oefen het. Hy het homself destyds as ”supergelukkig” beskryf.
“Ek is só dankbaar. Dit het my hele lewe verander. Ek het nog ‘n kans gekry.”
Sy vinnige herstel is juis toegeskryf aan hoe fiks hy was voor die operasie.
Arendse het op Abbotsdale grootgeword en word later vanjaar 39.
“Ek weet nie wie se nier dit was nie en hulle wou ook nie vir my die nier wys nie. Ek weet net dit was ‘n 40-jarige man.
“Dit was een van die heel wonderlikste dae van my lewe.”
Hy moes die laaste 5 jaar voor die oorplanting dialise kry en die laaste twee jaar was dit drie keer per week.
Hy is toe ook medies ongeskik verklaar om te werk en moes hy en sy gesin die aanpassings maak wat met die verminderde salaris gepaard gegaan het. Hy kon intussen ná die oorplanting weer begin werk.
Ook ‘n gepubliseerde digter wat gereeld aan die Poetry Jam op Riebeek-Kasteel deelneem, spandeer Arendse ook ure op sy fiets op die paaie van die Swartland en ons het hom juis onlangs op die N7-brug by Abbotsdale raakgeloop.
Hy het opgewonde vertel van sy voorneme om te kwalifiseer vir die droom om Suid-Afrika by die oorplantingspele in April aanstaande jaar te verteenwoordig.
Nou het hy daad by die woord gevoeg en ‘n hele entjie gevorder in die verwesenliking van dié droom.
Al is daar min dae oor voor die 15de Augustus, die afsnydatum om te kwalifiseer, wil hy ook nog weer probeer om ook die kwalifiseringstyd vir die 100m te klop. Daarvoor moet hy die afstand in minder as 12,21s afblits met sy onlangse beste tyd van 12,65s nog net duskant ‘n halfsekonde buite die kwalifiseringstyd.
Hy sê hy gaan nou eers ‘n bietjie op die atletiek fokus en minder tyd op die fiets spandeer.
Die spele vind van 15 tot 21 April 2023 in Perth plaas. Die Donderdag die 20ste en Vrydag die 21ste is die twee atletiekdae en die spele word ook die Vrydagaand afgesluit met die afsluitingseremonie.
“Daar is nog werk voor, maar ek is baie opgewonde.”