Solo Studios 2022 spog met besondere aanbieding
Johan Viljoen
Augustus is kunsmaand in die Swartland – meer spesifiek in die Riebeekvallei waar Solo Studios vanjaar wéér een van die grootste geleenthede op die streek se kalender is.
En met ‘n besondere kunsaanbieding vanjaar, kan dit ook nie anders nie.
Solo Studios moes weens Covid-19 noodgedwonge 2021 oorslaan, maar dit was nie in alle opsigte sleg nie. Dit is duidelik dat die organiseerders dit nou na ‘n volgende vlak neem en beloof Solo Studios 2022 ‘n fynproewerskunsdis wat geen kunsliefhebber durf misloop nie.
Die spyskaart is uitgewerk en gaste kan uitsien na moontlik die beste aflewering van dié geleentheid nog – Vrydag 26 tot Sondag 28 Augustus.
Onder die “disse” tel die wêreldpremiére van ‘n uitstekende dokumentêr met van die heel beste fotografie, ‘n veelbekroonde top-fotograaf, 18 uitgesoekte kunstenaars wat hul studios oopgooi vir ‘n beperkte aantal kaartjiehouers (vooraf bespreek) met nóg 10 top-kunstenaars wat as gaste uitstallings hou, 10 galerye met uitsoekkuns van meer as 50 kunstenaars, boekbekendstellings, spesiale begeleide toere, vertonings, lesings, die kuns van wyn en kostafels.
Kaartjiehouers kry die unieke geleentheid om persoonlik met die kunstenaars in hul ateljees te gesels en vandaar ook die subtitel van Solo Studios – “Intieme Kunsontmoetings”.
Die geleentheid open vanjaar op die Vrydag by die nuwe Kunshuis op Riebeek-Kasteel, met die wêreldpremière van Sculpting This Earth, die dokumentêre rolprent deur CineSouth Studios oor die werk van een van die wêreld se voorste landkunstenaars Stellenbosser Strijdom van der Merwe.
Met uitmuntende fotografie, musiek en regie volg die kunsdokumentêr van 95 minute deur Victor van Aswegen Van der Merwe oor al vier seisoene waar hy tydelike kuns uit die natuur in die natuur skep – ‘n wye reeks treffende werke in plaaslike landskappe van Stellenbosch tot Churchhaven en die uitgestrekte Tankwa Karoo.
Dié eerste vertonings van Sculpting This Earth deur die loop van die Solo Studios-naweek word in die nuwe moderne Kelderteater by Die Kunshuis aangebied waar kykers dit saam met die regisseur en die klankbaankomponis Kristi Boonzaaier kan sien. Dit is geskeduleer vir internasionale vrystelling later vanjaar.
Mike Spittal, eienaar van Die Kunshuis, is medevervaardiger van die film met Swartlander en fotograaf wat ook by Solo Studios uitstal, Rudolph Willemse, as uitvoerende vervaardiger.
Willemse en sy vrou, Emma, neem in ‘n gesamentlik uitstalling by Hoofstraat Conceptual, Points of Departure, deel aan Solo Studios 2022. Die uitstalling staan onder kuratorskap van Elizabeth Miller-Vermeulen.
Twee jaar gelede toe die laaste Solo Studios weens die pandemie in Desember gehou is, was een van die hoogetepunte die “straatkuns”-uitstalling van die bekende Falko One. Hy is vanjaar terug met nog een van sy unieke eenmalige solo-uitstallings wat vir dié geleentheid geskep is.
‘n Ander hoofgang op vanjaar se spyskaart is die solo-uitstalling van die bekende en bekroonde aweregse fotograaf Obie Oberholzer. Met ‘n reeks boeke waaronder Raconteur Road, Karoo en Aftermath – Making Art from War in sy arsenaal, stel Oberholzer ook sy nuwe boek, Happysadland bekend.
Op beide die Saterdag en Sondag sal daar vir kaartjiehouers lesings aangebied word oor huidige tendense in kuns en daar is die geleentheid om gemeenskapsprojekte te besoek.
Om die kuns van kos en wyn te vier, sal die Riebeek Valley Wine Co wynvermengingsgeleenthede aanbied, terwyl Solo Kitchens op die Saterdag aan gaste die geleentheid bied om die beste in plaaslike kos te proe.
Kaartjies vir die naweek – dag- en naweekkaartjies, is beskikbaar by https://solostudios.co.za/tickets/. Dit wissel van R150 vir ‘n dagpas tot R395 vir ‘n spesiale naweekkaartjie.
Vir meer programbesonderhede, besoek www.solostudios.co.za.