VOC-kanon skuif straks “huis toe”
Die VOC het in die laat 1600’s met ‘n seinstelsel begin om ‘n bepaalde boodskap vinnig na burgers diep die binneland van die destydse Kaapkolonie in te stuur.
Dit het ontwikkel en later het die sogenaamde Kaapse seinposstelsel uit drie lyne van kanonne bestaan.
Daar was die Swartland-lyn na die noorde, die Boland-lyn na die noord-ooste en die Overberg-lyn na die ooste.
Volgens rekords is die seinkanonne, rookseine en vlae gebruik om te kommunikeer.
Soos dit maar is, word die geskiedenis dikwels ingekleur met minder juiste stories. Só word daar deur baie bronne vertel dat die seinkanonne ook gebruik is om burgers te verwittig van voorraadskepe wat aan wal gekom het sodat hul kon gaan om handel te dryf.
Maar ander bronne beskryf dit as ‘n mite en dat die kanonne slegs vir militêre doeleindes, om die burgers op te roep wanneer vyandige skepe Tafelbaai binnegevaar het, gebruik sou word en daarom baie min afgevuur is.
Die kanonne het straks ‘n dubbele doel gedien.
Hulle is op hoë koppies/berge geplaas om die sein/boodskap so ver moontlik te dra.
In die Swartland is daar heelparty sulke kanonne en die meeste van hulle is nie meer op hul oorspronklike plekke nie.
Een so ‘n kanon is een van die twee wat voor die munisipale kantore op Moorreesburg staan. (Die tweede een is ‘n erg see-verweerde skeepskanon wat uit die see herwin is.
Die VOC-kanon was destyds op die plaas Kanonberg, nou suid van die Moorreesburg-Riebeek-Wes-teerpad.
Die kanon, ‘n sogenaamde sesponder, is die afgelope Saterdag deur Martin Venter van die Kanonvereniging van Suid-Afrika gemeet om te bevestig of die mates wel ooreenstem met die rekords.
Johann Mostert van Malmesbury het begin om met die Swartland Munispaliteit en die plaaseienaar te gesels oor die moontlikheid om die kanon weer op sy oorspronklike plek op die plaas te plaas.
Die kanonne is op spesiale houtbalke op die grond geplaas. Omdat slegs kruit en ‘n “prop” sonder ‘n kanonbal gebruik is, het die kanonne nie baie beweeg as dit afgevuur is nie.
Kruit is met ‘n laaistok van voor af in die loop gelaai (voorlaaikanonne) en agter-in die kanon vasgestamp waarna ‘n prop (dikwels van lap) ook ingestop is om die kruit in plek te hou. Dit is dan met ‘n lont deur die lontgat bo-op die kanon aangesteek vir die “ontploffing”.
Die seinstelsel het volgends rekords rondom 1675 ontstaan toe die eerste kanon op Seinheuwel geplaas is. Teen die jaar 1734 was daar ongeveer 20 kanonne op die onderskeie seinlyne en later is nog bygevoeg..
Ná die afvuur van ‘n kanon was daar dan ‘n geheime vlagkode gebruik en is ‘n groot vuur gemaak sodat die rook ver gesien kon word.
Die burgers moes dan gewapen na die Kaap vertrek.
Die Kaapse seinposstelsel het in die laat 1700’s in onbruik verval toe die Britte die Kaap die eerste keer beset het.
Nog ‘n seinkanon is dié bo-op die Neulfontein-koppie suid van Moorreesburg.
Dit is ook ‘n sesponder en weeg ongeveer 802kg met ‘n VOC-embleem op die eerste versterking.
Dit is in die middel 1700’s in Finspang, Swede vervaardig en volgens ‘n plaatjie op die voetstuk tussen 1757 en 1760 op die koppie geplaas as deel van die seinstelsel.
Op die plaas Tweekuil, die heel eerste veepos wat in die Swartland uitgegee is in die vroeë 1700, is daar ook ‘n kanon. Dit lê nou by die opstal.
‘n Ander kanon in die Swartland is dié op die plein op Riebeek-Kasteel. Dit is glo in 1938 op die plein geplaas nadat dit deur die plaaseienaar van die plaas Swartdam geskenk is.