Ondersteun van klein na groot – vermy die monsters
Mening
Johan Viljoen
So hoekom woon ek nou weer in hierdie dorp (of gekies om hier te woon of hierheen te verhuis)?
Omdat ek hier ‘n bestaan kan of wil maak, gegewe die plaaslike ekonomiese karakter van die dorp.
Of omdat dit weg is uit die stad se gedruis en als wat ek nie in die stad soek nie – besoedeling, hoë misdaad, verkeer, koue onpersoonlike woonbuurte waar mense mekaar nie ken of wil ken nie, ek niemand ken nie en en en…
Goed, so wat doen ek om seker te maak dat hierdie dorp nie ook so raak soos die plekke waar ek nie wil wees nie.
Koop ek bv. plaaslik?
Kan ek vra. Koop jy plaaslik?
Eet jy plaaslik?
Kuier jy plaaslik?
Ondersteun jy plaaslik?
M.a.w. spandeer jy jou geld sodanig dat jy die karakter van die dorp in stand kan hou.
Spandeer jy jou geld by die mense wat jy graag wil hê op hulle beurt weer vir jou moet ondersteun.
So wat is koop plaaslik?
Dit beteken onder meer jy moet probeer om die klein besighede wat hul gesinne uit dié dorp onderhou, eerste ondersteun. Want dit is daardie plaaslike klein ondernemings wat die gemeenskap dra en in die gemeenskap terugploeg.
Dit is nie die groot, honger monsters wat soos ‘n eenstopwinkel ander plaaslike ondernemers kom toe boelie wat die meeste vir jou gemeenskap doen en beteken nie.
Studies het getoon dat tot ver meer as die helfte van die geld wat daardie monsters – en daar kom meer en meer na jou dorp as jy nie plaaslik ondersteun nie – uit jou sak neem, elders na die aandeelhouers gaan en elders spandeer word.
Beteken dit jy moet niemand ondersteun wat nie plaaslik woon nie? Nee, maar ondersteun van klein na groot eerder as andersom.
En ondersteun ten alle koste die diens of besigheid wat wel op jou dorp beskikbaar is.
Die skool, die rekenaarwinkel, die plaaslike koffiekafee of die plaaslike elektriese winkel wie se eienaar ook een van die borge van jou skool en gemeenskapsorganisasies is.
Ja, dit kos dalk vandag ‘n bietjie duurder omdat die klein rekenaarwinkel nie die groot hoeveelhede kan aankoop soos daardie monsters nie, maar na wie wil jy eerste hardloop as jou rekenaar probleme gee of jy iets benodig of hulp wil vra?
Dan verwag jy daardie plaaslike besigheid moet jou help, maar jy wil net die klein goedjies daar doen en die groot besparings elders.
Maak dit sin om by ‘n nasionale onderneming jou dienste te kry en uitgerekte ure met inbelsentrums te wroeg, terwyl daar iemand op jou dorp is wat dalk ‘n raps duurder is, maar jy gaan nie jou lang duur ure op telefone deurbring nie.
Onthou, daardie plaaslike ondernemer is baie meer verantwoordbaar omdat hy/sy jou môre weer in die oë moet en wil kyk op straat en omdat hy/sy môre ook nog in besigheid wil wees. Ook in hierdie dorp wil woon soos jy. Vir dieselfde redes dalk.
As jy jou geld die dorp uitstuur, is daar minder werskgeleenthede in jou dorp en is daar dus minder mense wat hul kinders in jou plaaslike skool sit en dan… verarm die totale gemeenskap omdat die skole kleiner raak en minder vakke aanbied en die bose kringloop maak dat al meer kinders weggestuur word en en en…
Hou brood op die tafel van die entrepreneur en so help voed jy ‘n gesin en voed jy ook jou besondere gemeenskap.
En ja, dit kan dikwels so wees dat plaaslik koop vir die onmiddellike effe duurder is op jou sak, maar dit is die ou beginsel van goedkoop koop is duur koop.
Jy berokken jouself en jou gemeenskap onmeetbare skade deur neus in die lug elders te gaan koop of die monsters in jou dorp te ondersteun.
Koop plaaslik. Probeer die mark in jou dorp ondersteun. Vars produkte uit jou streek is immers die gesondste ook.
Dit word byvoorbeeld nie met al die anti-groen-implikasies van elders aangery nie.
Die meeste dorpe is ook van die landbou afhanklik. Ondersteun die landbou om jou dorp so ver moontlik. Daardie landbou is ‘n sterk steunpilaar van elke dorp.
En as jy nie geld het om te spandeer nie, vertel minstens vir almal van als wat plaaslik beskikbaar is – van die tannie wat konfyt inlê en klein koekies bak, tot die nuwe restaurant (wat hopelik ook plaaslike verskaffers se produkte en wyne sal aanhou) en die kunswinkel en die werktuigkundige wat nou net sy eie besigheid begin het.
Ondersteun plaaslik.
Só hou jy die goeie in ‘n gemeenskap in stand en moedig die volgende geslag aan om ook sake in jou dorp te begin doen eerder as elders heen te vlug.
En as daar dan ‘n behoefte is en die produk is nie plaaslik beskikbaar nie, waarom nie ‘n sakekamer of ander instansie kry om dié tipe dienste te probeer werf vir jou dorp nie?