Jaarlikse buite-ekspo nou om die draai – 24-26 Maart
Dit is aanstaande naweek weer tyd vir buitelugmense om saam te trek by die groot buitelug-ekspo wat jaarliks op Môreson langs die N7 naby Tierfontein gehou word.
Die gewilde kykNET Buite-ekspo het verlede jaar onder streng Covid19-regulasies ‘n allemintige 22 295 besoekers gehad en vanjaar is die program weer propvol van die ou bekendes en ‘n hele klomp nuwe toevoegings.
Vanjaar se ekspo word van 24 tot 26 Maart gehou en sal oudergewoonte weer ‘n baie groot verskeidenheid buitelugtoerusting kombineer met volop vermaak en fokusareas vir oud en jonk.
Naas die buiteluguitstallings waar besoekers die toerusting kan besigtig soos dit in die praktyk gebruik word, is daar weer talle leefstyluitstallings in die kuns- en snuffelmark en oorgenoeg heerlike kos- en drinkgoedstalletjies op die terrein.
Die pretpark vir die kinders is altyd baie gewild en die Sondag is daar ‘n Lollos-vertoning.
Besoekers kan vanjaar uitsien na ‘n splinternuwe kykNET-4×4-baan waar gewilde akteurs onder andere sake gaan uitspook in ‘n nuwe Jimmy’s Braaisous Potjiekompetisie. Hein en Bompie van Arendsvlei en Elana en AB van Suidooster gaan die potte behoorlik laat prut.
Vir aksie van ‘n ander aard is daar vanjaar ook rofstoeiers van Mother City Wrestling wat mekaar tussen die toue gaan laas les opsê.
Op die Hankook-verhoog in die arena sal kunstenaars soos Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Rooies, Rooiwyn Profeet, Desmond Wells, Irene-Louise van Wyk, Tasché, Riaan Grobler, Sone Joubert en Nicky de Kock gaste vermaak en die voete laat jeuk.
Daar is Saterdagmiddag ook ‘n spesiale konsert deur West.
André de Villiers van Safari 4×4-faam en die Action Ford Raptor-ervaring is terug met 4×4-ritte en Maniac 4×4 sal ook hulle slag wys. Die lang lys aktiwiteite sluit ook weer helikopterritte in.
Besoekers word aangemoedig om kaartjies aanlyn te koop by Ticketpro, maar ‘n beperkte aantal kaartjies sal ook by die hekke beskikbaar wees. Besoek die webwerf http://www.ekspo.co.za vir meer inligting.
Die kaartjiepryse is:
Vrydag – R50 vir volwassenes en R25 vir pensioentrekkers en kinders (4-18)
Saterdag – R100 vir volwassenes en R50 vir pensioentrekkers en kinders (4-18)
Sondag – R50 vir volwassenes en R25 vir pensioentrekkers en kinders (4-18)