Bergrivier-mense stel belang in goeie dinge – Hunsinger
Johan Viljoen
Ons sit en gesels eers vir ‘n uur “off the record” op die stoep van hul huis op Malmesbury.
Sommer oor ‘n klomp goed – die nasionale en plaaslike politiek en die nuwe regering van nasionale eenheid, die onderhandelinge en die wanpersepsies wat dikwels deur halwe inligting – selfs ook in die media – gedryf word.
Dr. Chris Hunsinger (61) en sy vrou, Carin, is al jare inwoners van die Swartland.
Hy het pas sy derde termyn as lid van die parlement in die nasionale vergadering begin. Hy is ook die Demokratiese Alliansie se kiesafdelingshoof vir Bergrivier.
dié courant het met hom gaan gesels oor die mylpale in sy eerste 10 jaar in die parlement en oor Bergrivier.

Hy was ‘n raadslid van die Swartland Munisipaliteit tot hy in 2014 vir die eerste keer vir die Demokratiese Alliansie parlement toe is.
Hy is uit die staanspoor as die party se adjunk-skaduminister van vervoer aangewys en is toe in 2019 deur die destydse leier, Mmusi Maimane, as skaduminister van vervoer aangestel.
Die portefeuljekomitee vir vervoer kyk na die 12 vervoerentiteite waaronder Prasa, Transnet, Sanral, ACSA en Samsa.
Ons gesels ook oor hoe vervoerkwessies in die toekoms beter bestuur kan word.
Hunsinger is pas onbestrede herkies as tesourier van die DA se koukus in die parlement en ook herkies as een van die party se swepe.
Dié boorling van Bloemfontein sê: “Kyk, dit was ‘n groot sprong parlement toe in 2014.
“Nie net ‘n sprong in terme van die werk wat totaal anders is as wat ek gewoond was as raadslid nie. Maar ook van beherende regering in Swartland na opposisierol. Dit was vir my die groot uitdaging vir die eerste tydperk. Ook die kopskuif weg van plaaslike regering se dienslewering na dié van nasionale regering met beleide en wetsontwerpe van die verskillende sektore.
“Dit was oorweldigend aan die begin, verseker. Ek onthou die eerste paar dae hoe ek verdwaal het in die gange van die parlement om ‘n lokaal te soek en dit nie te kry nie.”

In sy termyn as die DA se skaduminister van vervoer was om in 2020 die wetsontwerp vir die voorgestelde padongeluk-voordeleskema (RABS) te kon stop ‘n “absolute hoogtepunt. Dit was die eerste keer wat enige lid van die opposie dit kon regkry om ‘n wetsontwerp te stop, geneem die feit dat die ANC die meerderheid in die parlement is.
“Die wetsontwerp sou enorme implikasies hê vir almal wat ‘n voertuig besit. Want dit sou impliseer dat ‘n ander fonds parallel met die padongelukkefonds geskep en ook uit elke liter brandstof befonds sou moes word.”
Hunsinger was vroeër ‘n sakeman. “Daar kon ek kies met wie ek te doen wil hê, maar ek het gou besef as ‘n publike verteenwoordiger, ek nie kan kies nie en ek met almal te doen moet hê. As gevolg daarvan leer jy ‘n nuwe stel vaardighede.
“Jy kry as parlementslid ook ‘n kiesafdeling om te bestuur.” Hy is die laaste jare die DA se kiesafdelingshoof vir Bergrivier.
“Dit was uitdagend omdat jy moet leer om verskillende hoede op te sit. Jy het algemene sittings waar jy parlementslid is en jy het portefeuljesittings waar jy ‘n spesialiteitsrigting het. Dan is jy kiesafdelingshoof waar jy jou party se beleid moet vestig en uitbrei en mense moet bestuur en spanne moet bou en verkiesings moet wen.”

Om ‘n netwerk te bou met mense en wedersyds te kommunikeer, sê Hunsinger, is een van die grondslae waarop hy sy loopbaan as parlementslid en rol as publieke verteenwoordiger bou. “Ek het ‘n enorme netwerk en slaap nie baie nie. Doen so 4 tot 5 ure per nag. Nie omdat jy moet nie, maar dit is maar wat nodig is.
“Hierdie rol van publieke verteenwoordiger is vir my baie vervullend en baie meer betekenisvol,” voeg hy by.
Hy kon intussen ook sy studies voltooi.
“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid en ruimte wat ek binne die DA gekry het vir verdere groei en ontwikkeling.
“Ek kon my meestersgraad voltooi in analitiese statistiek wat ‘n groot liefde vir my is omdat ek baie met verkiesingsdata werk en veral met voorspellings.”
Hy het sy meestergraad in publieke administrasie gedoen en die Swartland se skoon oudit-rekord gebruik en ‘n persepsie-analise gedoen oor die waarde wat skoon oudits het en die persepsie wat mense daaroor het.
“Ek glo dit word baie keer oorwaardeer. Omdat ek as sakeman die ervaring gehad het van effektiwiteit – dat dit standaard moet wees en nie iets is wat jy moet verwerf nie.”

Hy “is redelik geïrriteerd met toekennings van sertifikate en plastiekbekertjies en medaljes en geleenthede waar skoon oudits op dié manier beloon word.
“Daar is in die skoon-oudit-spektrum heeltemal te min indikators van dienslewering en dit gaan maar oor die voldoening aan standaarde eerder as wat dit moet gaan oor die beoordeling van goeie dienslewering.”
Hunsinger het toe met behulp van ‘n parlementêre beurs verlede jaar ook sy PhD in Besigheidsadministrasie verwerf.
“Ek het ‘n nuwe finansiële model ontwikkel vir die volhoubaarheid van munisipaliteite en dit kom uit my ervaring in die privaatsektor waar dit gaan oor profyt maak. Hoe meer profyt jy maak en hoe sterker jou bankbalans, hoe beter vir jou besigheid.
“In die publieke sektor gaan dit presies oor die teenoorgestelde. Jy was in terme van beoordeling suksesvol, as jy al jou geld uitgegee het. Jy moet ‘n 100%-besteding hê. Dit word as sukses beskou en ek het dit uitgedaag.”

Die nuwe model het ‘n 5-punt skaal waarvolgens jy finansiële volhoubaarheid van ‘n munisipaliteit of openbare onderneming kan beoordeel deur die balansstaat te neem en 44 veranderlikes in te voer. Daaruit gee dit ‘n skaal van hoe finansieel volhoubaar die instansie in daardie stadium is.
“Dit was vir my ‘n groot oomblik om die doktorsgraad daarin te verwerf.”
As kiesafdelingshoof van die Bergrivier is Hunsinger baie trots op die DA se vertoning daar in die pas afgelope verkiesing .
“Ek het gesê ons gaan die eerste keer 19 uit die 19 VD’s (stemlokale) wen, maar ek was bekommerd oor Voorberg.
“Toe die uitslae kom en twee (provinsiaal en streek) van die drie stembriewe by Voorberg se uitslae is in die guns van die DA, toe vat ek dit maar ook vir ‘n wen om dit 19 uit 19 te maak.”

“Die uitdaging nou is om die goeie uitslae in 2024 te omskep en deur te trek na 2026 om dan al die wyke in die munisipaliteit te wen.”
In die provinsiale verkiesing het Bergrivier met ‘n haarbreedte in die tweede plek geëindig vir die DA met 66,27% (11 787 uit 17 785 geldige stemme) terwyl die DA in Mosselbaai 66,30% (30 526 uit 46 045 geldige stemme) gekry het.
“Bergrivier is die enigste kiesafdeling wat in 2024 sy beste prestasie ooit vir die DA gelewer het. Die meeste ander het in 2014 en 2016 hul beste vertonings gelewer.
“Ek skryf dit toe aan pragtige mense. Bergrivier het regtig mooi mense wat belangstel en wat die goeie dinge in die lewe wil hê.”
Sien ook “Ek is soos ‘n kettie oorgehaal.”