Twee Swartlanders wéér op wêreld-kortlys
Nadat hulle verlede jaar die Gourmand World Cookbook-prys vir die beste kookboek in die wêreld vir plantgebaseerde kos ingepalm het, is Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se varsnuwe boek pas op die jongste kortlys ingesluit.
Beide Niehaus en Jansen van Vuuren het hulle in die laaste jaar op Riebeek-Kasteel gevestig.

Hul jongste boek, Skepselkos, wat ‘n maand gelede nog nat van die drukkers af by die Woordfees bekendgestel is, het reeds sy eerste prys in die sakkie. Skepselkos is op die Woordfees bekroon as topverkoper in die leefstylkategorie op die fees.
Die twee jarelange vriende het gister kort voor die bekendmaking van die nuwe kortlys vir die wêreldtoekennings, ‘n bekendstelling van die boek by Jansen van Vuuren en Hardy Olivier se huis, Villa Marrakesh, op Riebeek-Kasteel gehou.

Jansen van Vuuren is kunstenaar, digter en ervare skrywer. Van sy vorige boeke sluit ook in Festive France en The Story of a House.
Niehaus, voorheen moderadakteur van Sarie, is vroeër vir haar boek Duinhuis vereer toe dit in 2020 as die beste in sy kategorie in die wêreld aangewys is by die 25ste Gourmand-toekennings. Sy het vertel dat Skepselkos (die Engelse weergawe, Earthling Foods, word binne die volgende maand verwag) deur Naledi Uitgewers uitgegee word. Hulle het Daar’s ‘n Vegan op my Verandah wat verlede jaar as nommer een in die wêreld aangewys is, self uitgegee en moes self die bemarking en verspreiding daarvan hanteer.

Fotograaf Yvette Jordaan sê hulle het baie van die foto’s vir Skepselkos by Villa Marrakesh geskiet, terwyl sy die meeste van die foto’s vir Daar’s ‘n Vegan op my Verandah destyds by Jansen van Vuuren en Olivier se villa in Frankryk geneem het. Dié boek se Engelse weergawe is toe op die 28ste Gourmand-toekennings vereer. Die boek is ook in Frans vertaal (Un vegan sur ma Vérandah).

Die genomineerdes vir die 30ste Gourmand wêreldtoekennings is in Augustus vanjaar aangekondig voor die kortlys pas bekendgemaak is.
Die toekennings is in 1995 begin deur Edouard Cointreau. Hulle vereer elke jaar die beste kook- en wynboeke (gedruk of digitaal) asook die beste kosproduksies op televisie. Deelnemers van 221 lande is vanjaar genomineer.

In Skepselkos, ook ‘n boek oor plantgebaseerde kos, span hul kragte saam met agt ander bekende sjefs wat elkeen ‘n hoofstuk in die boek het met hul eie resepte en ook ‘n klompie resepte van die skrywers.
“En onthou, ons almal eet vegan. Dit is eintlik bykosse- soos die groente wat jy in die pan in die oond braai.”
*Skepselkos is beskikbaar by Naledi.