Knortjorre brul vir oulaas by SOK
Wanneer die knortjorre op 14 Desember om die ovaalbaan op die Malmesbury Skougronde brul, kondig dit die einde van ‘n era aan.
Swartland Oval Karting (SOK) wat sy ontstaan meer 20 jaar gelede het, soek nou ‘n ander perseel om hul aktiwiteite voort te sit. Só vertel voorsitter, Mackie von Düring. Maar tot dan is dit eers die einde van Swartland Oval Karting.

Die klub het kennis gekry van die Malmesbury Skougenootskap dat hulle die baan nie meer sal kan gebruik nie en die mondelinge ooreenkoms nie gaan hernu nie. Die skougronde kan moontlik van eienaar verwissel vir ontwikkelingsdoeleindes. Die landbougenootskap het onlangs onder nuwe bestuur gekom en hulle moes herbesin oor die huurooreenkomste.
“Ons moes herbesin oor die omliggende gronde rondom die geboue, want die toekoms is onseker en dit mag dalk op die kort termyn verander, daarom wil ons nie enige huurooreenkomste of huurkontrakte, hetsy mondeling of skriftelik, aangaan met enigiemand ten opsigte van die veld of enige ander deel van die grond nie,” lui die kennisgewing aan die klub.

Die klub het destyds ontstaan toe go-kart-geesdriftiges soos Johan Odendaal aanvanklik hul eie resiesbaan gemaak het waar ‘n deel van Tafelzicht vandag is. Die perseel op die skougronde het later beskikbaar geraak.
Intussen het dorpskruiping plaasgevind en Tafelzicht het tot teen die skougronde en die baan uitgebrei
Onder die klubvoorsitters oor die jare tel Chris Hunsinger, Koch Brand, Johan Britz en Mornè van der Merwe.

Heidi Coetzee vertel sy was vir 10 jaar by die klub en het onder meer as sekretaresse en tellinghouer diens gedoen.
Sy het begin as lid van Cobus Louw se rugsteunspan.
“Dit is baie hartseer, maar ons kan daaraan nou niks doen nie. Daar was goeie tye. “
Onder die deelnemers wat oor die jare hul slag by die klub gewys het, tel ook Gawie Steyn (snr) en sy seuns van Riebeek-Kasteel, Britz en sy twee seuns, Jacques le Roux en sy seuns, Willie du Plessis, DW Bester, Han-koch Brand, Adriaan Burger en Eudrich Huysamen en vele meer.

