Minifees van nuwe musiek op Riebeek aangebied
Hoofstraat Conceptual op Riebeek-Kasteel bied dié naweek Soudaround – ‘n minifees van nuwe musiek – aan. Soundaround deur drie Suid-Afrikaanse komponiste word gefasiliteer deur Michael Blake.

Die drieledige fees sal fokus op die drie komponiste wat in Suid-Afrika gewoon en gewerk het: June Schneider (1939-2020), Ulrich Süße (1944-2024) en Michael Blake (gebore 1951).
Die drie het op verskillende maniere bande met mekaar.
Blake was in die vroeë 1970’s ‘n student van Schneider en Süße en Schneider het mekaar in min of meer dieselfde tyd ontmoet toe Süße aan die Universiteit van Natal klas gegee het. Toe Blake in die laat 1990’s na Suid-Afrika teruggekeer het ná twee dekades in Europa, het hy Süße tydens ‘n besoek aan Durban ontmoet.
Soundaround is ‘n komposisie deur die ontslape Schneider wat in 1977 na die VSA geëmigreer het en in 2020 in New York oorlede is.

Aleatoriese musiek (toevalsmusiek) is ‘n draad wat deur die konsert loop: Met onder meer Süße se Musicians plus One (1998) vir ‘n improviserende ensemble en een van Blake se vroegste komposisies Five Pieces for Piccolo and Tuba (1971).
In die gees van Soundaround sal al drie werke deur die Michael Blake-ensemble uitgevoer word met die musikante om die gehoor. Die werke sal ook opgeneem word vir ‘n CD wat in 2025 deur Africa Open vrygestel sal word.
Nóg aspekte van die drie komponiste se werk sal ook met multimediawerke, video en elektroniese musiek, tentoongestel word.
Soundaround
Saterdag 20 November van 14:00 tot 16:00
Toegang: R100 kontant by die deur
Verdere inligting: michaelblake@sun.ac.za
