LatestOns MenseUncategorized

Ds. George Prinsloo gesels oor 25 jaar by SN

Hy het geleer in die Swartland is die mense gasvry en hier deurdink hulle’ n saak ‘n bietjie langer voor hulle hulle besluit neem, maar hy het dit ook leer verstaan.
Toe hy en sy gesin 25 jaar gelede in Malmesbury aangekom het, was dit ds. George Dirk Prinsloo se tweede NG-gemeente ná 12 jaar op Hoopstad.
Hy is nie ‘n “ou vir titels nie” en beskou homself as ‘n veelsydige mens.
Só gesels Prinsloo (64) toe ons mekaar vir ‘n koffiekuier ontmoet in sy ‘rooi kantoor’ (hy vertel mense het spottenderwys so begin verwys na sy gereelde gesprekke met ander by die Wimpy op Malmesbury).

Hy verwys na homself as oud, maar dié is darem nie waar nie. As hy in Arkadiastraat op ry met sy 500cc Honda-motorfiets vir ‘n foto voor die drie houtkruise (“Die ‘backdrop’ van my lewe is maar Jesus Christus. Dit is maar waar ek vandaan kom.”) en die kerk, is daar duidelik nog sommer baie lewe agter daardie stange.
Hy het die Sondag voor ons kuier sy afskeidspreek gelewer en sy emeritaat ontvang.

Wat gaan jy nou doen? “Niks,” sê hy tong in die kies.
“Ek gaan baie by die kinders kuier en agterpaaie met my motorfiets ry.
“Ek probeer nie jonk wees nie, maar ek weet hier is ‘n paar jongmense wat vir ons gaan kom kuier. Ek wil liewer op hierdie goeie seisoen klaar maak. Ek wil nie soos Mike Tyson op 57 nog boks nie.”
Sy lewe lank al is hy baie lief vir sport. Speel nou van ‘n sewe voorgee af gholf, maar was in sy jonger dae op ‘n plus twee. Hy het by die Vrystaat Universiteit vir Shimlas rugby gespeel en as student die toekenning ontvang vir die mees veelsydige sportman. Hy het ook waterpolo liga gespeel, tafeltennis en muurbal vir die universiteit en ook SA Plattelandkleure in gholf verwerf.
Dit is ook op Kovsies waar hy sy vrou, Zandra, ontmoet het. Sy het in Bloemfontein grootgeword en HOD Natuurwetenskappe gedoen met plantkunde en dierkunde as hoofvakke.
Prinsloo het op Bothaville in die Vrystaat grootgeword en was op skool goed in sport en was ook die hoofseun en debatsvoorsitter.
“Hierdie goed is nie vir die rekord nie,” sê hy. “Dit is nie waaroor dit gaan nie.”
Ek besluit tog om dit in te sluit omdat dit die storie meer volledig vertel.

Wou hy altyd predikant word?
Sy kop het op skool aanvanklik in die wiskunde en rekeningkunde-rigting gestaan, maar twee afsonderlike “pointers” het dit verander.
“Dit was ‘n wonderlike pad.” In sy matriekjaar het twee onverwante mense hom gevra hoekom hy nie predikant word nie en “toe begin daai ding met my stoei”.
Dit is waar dit begin het.
“En toe waag die Here om my te roep in die bediening in. Maar ek sê vir hom rêrig dankie, want dit is vir my ‘n vreugdevolle seisoen van lekkerte. Die swaar goeters wat maar altyd daar is, was maar daar, maar dit was vir my baie lekker.
“My geroepenheid het mettertyd baie mooi verdiep, waaroor ek baie dankbaar is. Ek het die Here baie lief.”


Oor sy jare as predikant, sê Prinsloo: “Ek was nie noodwendig die beste pastor nie. Ek was nie noodwendig die beste prediker nie. Ek was nie noodwendig die beste akademies teologiese persoon nie. Maar wat vir my baie kosbaar was, was waar mense jou ingenooi het in hul lewens en dit waarmee hulle te doen het. Waar ‘n mens nie kort antwoordjies vir mekaar kon gee nie, kon ons saam wonder oor wat aan die gebeur is en waar God se hand daarin pas. Dit was vir my baie baie kosbaar.
“Nie alle mense nooi alle mense in daardie spasie in nie. Dan moet ‘n mens baie versigtig wees. Dit was vir my goud werd en het dalk ook aan my emosionele intelligensie ‘n bietjie geskaaf. Ek weet nie, ek vermoed so.”

Ons gesels oor sport.
“Ek is lief vir sport. Ek dink sport het altyd my werkslewe en my gesinslewe gebalanseer. Sonder sport sou ek maar baie gesukkel het.”
Hy speel steeds gholf en vertel van die jaarlikse meesterstoernooi wat hulle al vir 20 jaar hou tussen hulle ses swaers wat almal goeie gholfspelers. Dit is baie kompeterend. Vier van hul seuns, waaronder sy eie seun, Jan, speel ook van enkelsyfers af.
Ná universiteit was Prinsloo ‘n dienspligkapelaan voor die beroep as die eerste medeleraar vir Hoopstad nadat daar voorheen net een predikant was.
Twaalf jaar later is hy in ds. Smuts van Rensburg se plek na Malmesbury beroep.
Swartland-Noord het drie predikante gehad.
Ná ds. Schalk Thiart se vertrek, was dit net Prinsloo en ds. Jan Steyn. “Ek en Jan het oor die jare ‘n baie diep verhouding ontwikkel. Hy is ‘n introvert en ek is ‘n ekstrovert. Ek het ‘n ontsettende waardering vir Jan se baie sterk akademiese kapasiteit ontwikkel. Hy het my diep verryk met sy insigte en hy sê hy het by my geleer van spanwerk en ander se insigte.
“Ek was nooit nie ‘n medeleraar nie. Ek hou van spanwerk.”
Prinsloo het oor die jare as voorsitter van beide die Laerskool en Hoërskool Swartland se beheerliggaam gedien.

Wat het Malmesbury jou geleer?
“Ek het geleer dat jy met ‘n lang en geduldige pad jou lewe ook sinvol kan aanpak. Ek kom uit ‘n kontantgewas-boerderygemeenskap waar hulle plant, stroop – afgehandel. Hier plant jy wingerd en dit vat ‘n lang tyd voor jy kan oes. So jy moet die hele tyd versorgend werk met jou wingerd en daardie ding het ‘n effek op mense se besluitneming in die algemeen.
“Op kerkraadsvergaderings het ek aanvanklik nie verstaan dat daar so lank geneem is om besluite te neem nie, maar toe ek dit begin verstaan, het dit vir my sin gemaak.
“Die Swartland het ‘n wonderlike gasvryheid. Hulle hou van kuier rondom ‘n glas wyn en ‘n broodtafel. Dit is ‘n baie lekker kant. In die Vrystaat hou hulle ook van kuier.
“Ek was ook baie verras oor Swartland-Noord se openheid om nie te konserwatief te dink oor kerk nie. Dit was vir my wonderlik bevrydend. Kleredrag was byvoorbeeld nie ‘n ‘issue’ nie. Hulle was oop en ‘flexible’ dat ons ook Engelse goed in die kerk kon sing. Ek het baie daarvan gehou.
“Ek raak gefrusteerd as ouens met reëls werk. Ek hou eerder van waardes uitwerk en uitleef.”
Ons gesels oor uiteenlopende mense.
“Ons is almal anders.
“As ‘n mens blind vir jou eie ‘brokenness’ is, dan is jy gewoonlik met ander se ‘brokenness’ besig.
“Ons kom van ‘n ‘broken’ spasie af.
“As ons eerlik genoeg is.
“Dan is ons gelyk. Ek en jy is gelyk.
“Christus moes nie net vir jou kom nie, hy moes vir my ook kom.
“Daar is ‘n stukkende kant aan elke mens.”

Ek vra hom oor sy liefde vir skryf:
“Dit is maar binnepret. Ek hou daarvan om skeppend met woorde te werk.
“Ek hou van die krag van woorde. Dit nogal baie mooi gesien by Neil Büchner en sy vrou, Lettie.
“Wanneer ek baie gelukkig is, skryf ek graag.
“Woorde skep realiteite wat jy nie altyd maklik gesê kry nie.”
Die Prinsloos het ‘n aftreehuis op Vanwyksdorp in die Klein Karoo gebou en vandeesweek breek die volgende seisoen in hul lewe aan. Die huis se naam is Plek van Vrede.
Hulle het sewe jaar gelede die dorp besoek en verlief geraak daarop.

Hoekom Vanwyksdorp? “Daar is water. Daar is baie water.”
“Ek hou van die eenvoudige goed. Ek het die vreugde van handewerk ontdek die afgelope sewe jaar. Jy kan dit meet. Jy kan dit klaar maak.”
Prinsloo vertel Zandra is baie veelsydig. “Sy is ‘n goeie kunstenaar. Sy teken en skilder. Sy is baie mal oor tuinmaak. Sy is die kreatiewe plantkundige. Sy het my geinspireer en dit is nou vir my ook lekker.”
*Die Swartland-Noordgemeente het Hanel Thesnaar aangestel om van Januarie 2025 ds. Jan Steyn se medeleraar te wees. Haar pa, dr. Christo Thesnaar, was ook ‘n predikant en het later in die akade

Leave a Reply

error: Content is protected !!