Net genade, sê Lydia le Roux oor 100-tal
Helder verstand “seker maar my liefde vir lees”
Toe dié nooi De Kock in die 1940’s in die Riebeekvallei kom, was dit ‘n totaal ander omgewing as wat sy in die Oos-Kaap geken het.
Sy was ‘n dorpsmeisie van Cradock.
Vandag, 17 Julie, vier Tannie Lydia le Roux haar 100ste verjaarsdag en dié courant het met haar gaan gesels. Haar enigste seun, Boet (71), en een dogter Hester (75) het saamgekuier.

Tannie Lydia is nou al bykans 80 jaar ‘n inwoner van die Riebeekvallei
As dogter van ‘n bekende sakeman en ook burgemeester van Cradock, Max en Hester de Kock, het sy ná skool op Stellenbosch studeer (‘n “gewone BA,” sê sy) en die jong Frikkie le Roux daar ontmoet. Sy was in Sonop en hy in Dagbreek.
Frikkie se ma Elsie het die plaas Vlakkenheuwel buite Hermon van haar pa, Evert Loubser, (van Malrug), geërf en saam met haar man, Andries, daar geboer.
Die Jong Frikkie is ná sy B. Comm.-studies plaas toe en hy en die ewe jong Lydia is kort daarna getroud.
Tannie Lydia en Oom Frikkie was 65 jaar getroud toe hy op 92 oorlede is.
Sy vertel van die Riebeek van ouds en hoe sy tot in haar 80’s nog by gemeenskapsaktiwiteite betrokke was.
“Ek was baie lief vir koek bak en het kursusse bygewoon om as lid van die VLV koeke te beoordeel.”

Tannie Lydia, steeds ‘n aktiewe leser, skryf haar helder verstand toe aan die feit dat sy baie gelees het en steeds lees.
Sy was voorheen ook voorsitter van die plaaslike Leeskring, wat intussen doodgeloop het.
Dié leesliefde, vertel sy, kom van haar ouma De Kock af en daar is vandag nog ‘n groot versameling boeke op Vlakkenheuwel. Dit sluit werke van van die grootste skrywers in. Later jare toe sy nie meer plek gehad het vir groot boekrakke nie, het sy miniatuurboekies (maar die teks is groot genoeg om te lees) begin versamel. Daar is steeds so ‘n boekrakkie met van dié boekies in haar kamer.

Toe ons by haar gaan kuier, sit sy en lees aan die oggend se gedrukte uitgawe van Die Burger. Sy is op die ouderdom van 100 steeds daarop ingeteken en lees ook die Huisgenoot. Tannie Lydia volg ook die nuus. Sy is ’n sportgeesdriftige en mis nie ’n rugby- of krieketwedstryd op televisie nie en kyk ook graag gholf en die Tour de France.

Naas Boet en Hester is daar nog die middelste dogter, Elze. Sy is ‘n taalpraktisyn en woon op Langebaan.
Tannie Lydia het 6 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.
Sy het nog tot twee jaar gelede op die ouderdom van 98 alleen in die Deo Gloria-aftreeoord op Riebeek-Kasteel gewoon voor sy na die Bergsig huis vir bejaardes op Riebeek-Wes verhuis het.

Die kleinkinders sê “Ouma Lydia is blakend gesond en nog redelik mobiel en haar geheue is beter as van haar kinders s’n”.
Hulle glo die “geheim tot Ouma se lang lewe en helderheid van gees is die feit dat sy nog altyd weetgierig en leergierig wees – haar brein het nog nooit afgetree nie.
“En o ja, sy geniet natuurlik ’n glasie wyn tydens familiekuiers op die plaas.”
Gepols aan waaraan sy self die goeie gesondheid op dié ouderdom toeskryf, antwoord sy: “Dit is net genade.”
