Dieregesondheid bekyk; Varkpes maai op Malmesbury
Die bewusmaking van en die belangrikheid van die beheer van dieresiektes is wêreldwyd onder loep.
Gister was internasionale dag vir die bewusmaking van hondsdolheid. 28 September is ook die herdenking van die dood in 1895 van Louis Pasteur, die Franse chemikus en mikrobioloog, wat die eerste hondsdolheid-entstof ontwikkel het.
Hondsdolheid is ‘n staatsbeheerde dieresiekte in Suid-Afrika en word deur die Wet op Dieresiektes gereguleer.

Onder die ander staatsbeheerde dieresiektes tel Afrika-varkpes wat in die afgelope drie maande tot die vrekte van meer as ‘n 1000 varke op Malmesbury gelei het.
Die kleinboere wat op die Swartland Munisipaliteit se grond langs Saamstaan boer, het groot skade gely.
Van die bykans 1200 varke ‘n paar maande gelede is daar nou minder as 100 oor.
Die staatsveeartsdienste het dié betrokke area ook onder kwarantyn geplaas.
Wanneer daar geen dooie varke meer binne of buite hokke is nie, verduidelik Marius Vrey van die staatsveeartsdienste, kan hulle ná ‘n verdere 30 dae (twee keer die varkpes se lewenssiklus) die kwarantyn lig.

Daar bestaan streng regulasies onder onder meer die wet op dieregesondheid wat ook op grondeienaars van toepassing is. Eienaars van grond waar diere aangehou word, moet in terme van ander wetgewing ook verseker die grond/perseel is veilig vir die aanhou van diere. Dit sluit onder meer omheinings in.
Diere-eienaars asook die grondeienaars moet volgens wet sodanige siektes onmiddellik aanmeld waarna die staatsveeartsdienste die saak sal oorneem.
Die wet skryf ook voor dat die karkasse van die diere wat gevrek het op die grond begrawe moet word en nie weggeneem mag word nie.
Afrika-varkpes hou groot bedreiging in vir die varkbedryf en voedselsekerheid.
Die Wes-Kaap se Departement van Landbou verduidelik in ‘n dokument dat “Afrika-varkpes nie na mense oorgedra word nie. Dit word egter nie aanbeveel om die vleis van enige siek dier of dier wat gevrek het, te eet nie.”
Wat is Afrika-varkpes?
Afrika-varkpes (ASF) is ‘n ernstige virale siekte wat wilde en mak varke affekteer.
Daar is geen entstof nie.
Daar is geen behandeling vir aangetaste varke nie.
Vlakvarke en bosvarke dra die virus maar toon nie tekens van die siekte nie.
Hoe word die varke siek?
Kontak met siek mak varke.
Inname van besmette materiaal (soos voedsel, afval, voer en vullis).
Kontak met besmette mense, skoene, klere, voertuie en toerusting.
Sagte bosluise.

Wat is die simptome?
Rooiheid van die vel van die ore, buik en bene.
Hoë koors.
Aborsie by dragtige sôe.
Mag uit die rektum bloei of diarree hê.
Swakheid in die agterste ledemate.
Sterftes kan so hoog as 100% wees.
Varke wil nie eet nie, lyk depressief, haal moeilik asem, braak, mag uit die neus bloei.
Chroniese siektesimptome sluit in gewigsverlies, koors, respiratoriese tekens, chroniese velsere en artritis.
Voorkomende maatreëls?
Indien Afrika-varkpes vermoed word, stel u naaste dieregesondheidsbeampte onmiddellik
in kennis.
Verhoed dat jou varke in aanraking kom met ander varke met onbekende
gesondheidstatus, onbekende mense, vlakvarke en wilde varke.
Indien jy van ‘n veiling koop, dring aan op ‘n gesondheidsverklaring deur die verkoper om
te bevestig dat die diere van ‘n gesonde kudde afkomstig is.
Koop slegs varke by betroubare eienaars, dring aan op ‘n gesondheidsertifikaat van hul
veearts rakende die gesondheidstatus van die plaas en sy diere.
Moet verkieslik nie jou varke kombuisafval voer nie, maar as jy geen opsie het nie,
verwyder alle vleis en kook die kombuisafval deeglik gaar.
