Sports

Koringboere, Lillies se Top 12-aanslag skop af

Die top-twee Swartlandse spanne in Boland Rugby se Grootuitdaagliga, Wesbank (streekkampioen) en Abbotsdale, meet van Saterdag af saam met die ander 5 streke se sterre kragte om die Sanlam Boland Top 12-rugbytrofee.
Wesbank is ná ‘n kort afwesigheid terug in dié gesogte kompetisie terwyl Abbotsdale (vanjaar die Swartland se naaswenner) weer, soos verlede jaar, als in die stryd gaan werp om hul hande op die trofee te lê.

Die Melkboere van Darling, een van die klubs wat die Swartland die afgelope twee jaar in dié kompetisie verteenwoordig het (eers as streekkampioen en toe as naaswenner) het vanjaar nie ‘n goeie lopie gehad nie.
Abbotsdale het dié seisoen aanvanklik die voortou geneem, maar ná ‘n paar onverwagse nederlae moes hul met die tweede plek in die Swartland tevrede wees.
Daarteenoor het Wesbank stelselmatig hul pad tot bo-aan die punteleer oopgebeur om die streektitel te verower.
Nou ding 12 spanne oor die volgende sewe weke mee om die Boland-louere.
Die komende naweek is dit as’t ware Swartland teen Noordwes.
Wesbank begin hul Top 12-veldtog Saterdag op tuisbodem teen die besoekende span van Vanrhynsdorp Eagles, wat tweede geëindig het in die Noordweste-afdeling. Delicious van Clanwilliam het daar met die louere weggestap.

Abbotsdale reis Saterdag na Clanwilliam om dié Noordwes-streekkampioen aan te durf.
Die ander spanne in vanjaar se Top 12, is Saldanha (Weskuskampioen) en Vredenburg (2de), Botrivier (Overbergkampioen) en Safcol (2de), Roses United (Wit-Sentraalkampioen) en Hillcrest (2de), Robertson (BreëLangeberg-kampioen) en Villagers Worcester (2de).
Robertson is die verdedigende kampioen.

Wesbank se uitspeelwedstryde (Groep A) is:
11 Oktober tuis teen Vanrhynsdorp Eagles (17:00).
18 Oktober weg teen Vredenburg (15:00),
25 Oktober weg teen Botrivier (17:00),
1 November tuis teen Villagers Worcester (15:00) en
8 November tuis teen Roses United (15:00).
Abbotsdale se uitspeelwedstryde (Groep B) is:
11 Oktober weg teen Delicious Noordwes (17:00).
18 Oktober tuis teen Saldanha (15:00),
25 Oktober weg teen Hillcrest United (15:00),
1 November weg teen Robertson (17:00) en
8 November tuis teen Safcol United (15:00).
Die halfeindrondewedstryde tussen die vier spanne wat bo eindig (die voorste twee in elke groep) word om 14:00 en 16:00 op 15 November op Boland Stadion op Wellington beslis.
Die eindstryd om die titel vind die daaropvolgende Saterdag 22 November om 16:00 ook op Boland Stadion plaas.

Leave a Reply

error: Content is protected !!