Koringboere wen; Lillies oes 2 punte
Die vlak van klubrugby in die Boland is besonder hoog en ook baie gewild in die onderskeie gemeenskappe.
Die room van die streek ding tans mee in die jaarlikse Top 12-kompetisie om die algehele Boland-kampioen te kroon.
Krag teen krag. ‘n Allegaartjie wat jy ver sal gaan soek om te klop. Klipharde klubrugby. Passievolle spelers en duisende passievolle ondersteuners wat Saterdagmiddae geesdriftig agter hul spanne staan. Skeidsregters wat altyd onder skoot sal kom.

Só lyk die resep en met die afskop van die toernooi die afgelope Saterdag het die spanne wat gekwalifiseer het weer uitstekende rugby opgedis.
Die Boland het ses Grootuitdaagstreke en Wesbank is vanjaar die Swartland se kampioen.
Op hul tuisveld, Alfastraat, het hul hul veldtog Saterdag afgeskop teen ‘n begeesterde naaswenner uit die Noordweste, Vanrhynsdorp Eagles.
Al was die Koringboere met rustyd relatief gemaklik voor met 17-8 nadat die besoekers met drie kanse pale toe misluk het, was Eagles nie van plan om so ver te ry en dan die wedstryd op ‘n skinkbord weg te gee nie.
Hulle het teruggeveg en die agterstand na 20-15 laat krimp en dit het by tye gelyk of Eagles net so ‘n rapsie hongerder was vir die wen as die tuisspan.
Laat in die wedstryd het Wesbank egter ‘n strafdoel behaal om die gaping weer meer as 7 punte te maak en dit toe opgevolg met ‘n doodskoot-vierde-drie om die sege te verseël en ‘n bonuspunt te verdien. Die eindtelling was 28-15.
Hier is ‘n blik op daardie wedstryd.
Dit het Wesbank ook bo-aan die punteleer in Groep A geplaas.

Op hul beurt het Abbotsdale, die Swartland se naaswenner, na Clanwilliam gereis om in Groep B vir Delicious, die Noordweste se kampioen, op eie bodem aan te durf. Geen geringe taak nie. Toe die spanne rustyd gaan water drink en die besoekende Lillies met ‘n enkele punt (14-15) voorgeloop het, was die tafel gedek vir groot opwinding.
Die tuisspan het egter ná ‘n drie die voortou geneem en die gaping met ‘n strafdoel verder vergroot om tot diep in die tweede helfte met 22-15 voor te loop.
Lillies het nie gaan lê nie en hard gespeel tot die einde. Dit het vrugte afgewerp en kon hulle met ‘n verdoelde drie die eindtelling gelyk maak – 22 elk.
Sodoende het die Swartlanders met twee ligapunte huiswaarts gekeer. Twee punte in ‘n wegwedstryd kan vorentoe vir hulle baie waardevol wees.
Ná die twee Swartland-spanne se kragmetings teen die room van Noordwes, skuif die fokus die komende naweek na die Weskus.
Beide spanne kom teen bulspanne van dié buurstreek te staan.

Abbotsdale is Saterdag om 15:00 gasheer vir die Weskuskampioen, Saldanha, wat die afgelope Saterdag met 54-36 oor Hillcrest United geseëvier het.
Wesbank reis op hul beurt na Vredenburg, die Weskus se naaswenner, waar dié twee spanne ook om 15:00 slaags sal raak.
Vredenburg was Saterdag in ‘n verbete stryd op Wellington betrokke en moes uiteindelik met een punt (33-32) die knie voor Roses United buig. Die rustydtelling daar was 21-20 in Roses se guns.
Die ander twee Top 12-wedstryde Saterdag was dié tussen Robertson en Salfcol United en Botrivier en Villagers Worcester.
Robertson, die verdedigende kampioen, het op hul tuisveld met 55-42 gewen nadat hulle rustyd nog met 24-30 agter was.
Villagers Worcester het ‘n belangrike wegsege (die enigste van die dag) van 29-26 oor Botrivier behaal. Die tuisspan was rustyd nog met 19-12 voor.
