LatestSports

Pieter-Steph wéér vereer

Die veelbekroonde Springbokheld en boorling van die Swartland Pieter-Steph du Toit (33) het pas nóg ‘n wêreldtoekenning in sy trofeekas bygevoeg.
Hierdie keer is dié oud-leerling van Laerskool Riebeek-Kasteel en Hoërskool Swartland, in Frankryk vereer as die gesaghebbende Franse rugbykoerant Midi Olympique se Wêreldspeler van die Jaar.

Dit volg op onder meer die twee keer (2019 en 2023) wat Du Toit as Wêreldrugby se Speler van die jaar gekroon is.
Die jongste toekenning wat vandeesweek namens die Swartlander deur die president van SA Rugby, Mark Alexander, in ontvangs geneem is, is deur die lesers van Midi Olympique bepaal.
Midi Olympique is ‘n tweeweeklikse koerant wat spesialiseer in rugby en aan die La Dépêche du Midi-groep behoort. Hul hoofkantoor is in Toulouse.
Du Toit kon nie self die toekenningsgeleentheid bywoon nie. Die Springbokke speel Saterdagaand in Parys teen Frankryk.

Dié plaasseun van Riebeek-Kasteel het ‘n goeie seisoen beleef en is ook vroeër deur die plaaslike rugbytydskrif SA Rugbymag se lesers as hul SA Speler van die Rugbykampioenskap aangewys.
Hy was ook voorheen SA Rugby se Speler van die Jaar vir 2016, 2018 en 2019.
Du Toit (Springbok nommer 854) het sy debuut vir die Bokke 12 jaar gelede teen Wallis gemaak en het sedertdien 70 punte (14 drieë) vir die Bokke aangeteken.

Sy oupa Piet (Spiere) du Toit was Bok nommer 332 toe hy in 1958 teen Frankryk sy debuut in die Groen en Goud gemaak het. Dié sterk voorryman, wat vir Malmesbury, die Boland en die WP rugby gespeel het, het in 14 wedstryde vir die Springbokke uitgedraf.
Met 93 wedstryde, twee Webb Ellis-trofeë en nou ook Midi Olympique se “Wêreld Oscar Monde” is Pieter-Steph reeds lank ‘n sleutelspeler en anker in die Bokspan bekend vir sy hoë werkverrigting.

Leave a Reply

error: Content is protected !!