Agri/BusinessLatest

Aksieplan geloods ná Swartland se heel eerste bek-en klou-uitbraak

Die bevestiging van die heel eerste bek- en klouseeruitbraak in die Wes-Kaap op ‘n perseel naby Gouda, het verreikende gevolge vir die veebedryf in die provinsie.
Die onmiddellike effek van die uitbraak is ‘n streng kwarantyngebied met ‘n radius van 10km om die geaffekteerde eiendom.
Dié kwarantyngebied sluit twee van die provinsie se grootste abattoirs, Deli-co en Tomis, in.
Bek- en klouseer (BKS) kom by gespletehoef-diere voor en hou geen gesondheidsgevaar vir mense in nie.
Omdat bek- en klouseer ‘n staatsbeheerde siekte is, is daar nou streng maatreëls ten opsigte van die vervoer van diere en biosekuriteit ingestel.

In ‘n gesamentlike persverklaring vroeër vandag deur Agri Wes-Kaap en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Wes-Kaap, word die omvattende aksieplan in samewerking met die Wes-Kaapse Departement Landbou se Veeartseny-afdeling om die huidige situasie in die Gouda-area te bestuur, uiteengesit.
“Die plan fokus op die beheer, monitering en voorkoming van verdere verspreiding van die siekte, met spesifieke fokus op die gebied rondom Gouda.
“Die bewegingsbeheerplan is spesifiek gestruktureer om as riglyn te dien vir samewerking tussen regering, georganiseerde landbou en plaaslike rolspelers – met die doel om die siekte te beperk, te beheer en uiteindelik uit te roei.”
Binne die kwarantynsone “sal alle beweging van diere, voer en moontlike besmette materiaal streng beperk word.
“Die Departement van Vervoer het aangedui dat hulle vanaf vandag drie padblokkades aktief gaan beman – twee op die R46 en een op die R44. Hier sal alle voertuie wat diere vervoer, ondersoek word.
“Vervoerders moet die nodige dokumentasie byderhand hê. Dit sluit die eienaarsverklaring, ontvangerverklaring vir vee en sertifikate ingevolge afdelings 6 en 8 van die Veediefstalwet in.
Agri Wes-Kaap het ook die gebruik van LPR-tegnologie (outomatiese nommerplaatherkenning) voorgestel om voertuigbewegings binne die beheergebied te monitor.”
Luidens die verklaring sal die besmette diere vandag ingeënt word as deel van beheermaatreëls.
“Daarna sal ʼn 14-dae-waarnemingstydperk geld, voordat die diere – mits geen nuwe simptome voorkom nie – by ʼn reeds geïdentifiseerde abattoir geslag mag word.
“Daar is ook ‘n gesamentlike operasionele sentrum onder leiding van die Departement van Landbou geaktiveer vir deurlopende monitering, data-insameling en koördinering van optrede.”
Louis Wessels, regsbestuurder van Agri Wes-Kaap, het gesê: “Ons bly gefokus op die beskerming van die provinsie se veesektor en die handhawing van biosekuriteit op elke vlak.”
Jaco van den Berg, voorsitter van die RPO Wes-Kaap, het bygevoeg dat BKS ʼn ernstige risiko vir die rooivleisbedryf inhou, “maar met dissipline, samewerking en deursigtigheid kan ons die impak daarvan beperk en uiteindelik die siekte uitroei.”
Daar is ‘n beroep gedoen op rolspelers om nie diere van BKS-besmette areas of areas onder bewegingsbeheer aan te koop of te vervoer nie.
“Dit is riskant om diere op ʼn veiling buite die Wes-Kaap te koop. Koop slegs by veilings wat aan die APAC (Landbouprodukte-agenteraad) se voorskrifte voldoen.

“Voertuie wat diere vervoer moet gewas en ontsmet word nadat diere afgelaai is en voor diere weer opgelaai word. ʼn Sertifikaat wat die datum, tyd en ontsmettingsmiddel wat gebruik is, aandui, moet ten alle tye dié voertuig vergesel.
“Voermateriaal wat diere vergesel, moet vernietig word.
“Verkry ʼn gesondheidsertifikaat deur ʼn private veearts ten opsigte van diere wat aangekoop word – veral diere van buite die Wes-Kaap.
“Meld enige verdagte moontlike BKS-gevalle onmiddellik by u naaste staatsveearts aan.
“Ons doen weer ʼn beroep op produsente om hul eie biosekuriteitsmaatreëls te hersien en te versterk, en om alle beweging van diere in of uit die kwarantyngebied aan te meld via die departement se vraelys.”
dié courant het die voorsitter van Agri Malmesbury, John Dürr, gevra oor die impak van so ‘n uitbraak op die uitvoermark wat die laaste jare met sukses uitgebou is, en ook hoe dit plaaslike vleispryse kan raak.
Dürr is reeds vir dekades nou betrokke in die rooivleisbedryf.
“Oor die uitvoermark is dit in hierdie stadium te vroeg om te sê, want in ander dele van die land het uitvoere van beesvleis na sekere lande oopgegaan.
“Daar was ook ‘n klein impak op die verandering van vleispryse.” voeg hy by.

Dürr het bevestig dat die abattoirs in die geaffekteerde gebied volgens regulasies onder die streng maatreëls steeds kan voortgaan met slagtings.
Hy het boere ook aangemoedig om, wanneer hulle onseker is, by hul naaste veearts, die Departement van Landbou of hul verteenwoordigers van ‘n lewendehawe-agentskap of een van die georganiseerde landboustrukture aan te klop alvorens hul ‘n oningeligte besluit neem.
“Elkeen moet ook sorg dat hul hul eie biosekuriteit- en naspeurbaarheidstelsels in plek stel en dit streng bestuur en nie probeer om die reëls te omseil of buig ter wille van eie gewin op die korttermyn nie.
“Kom ons vat mekaar se hande en maak die beste van die situasie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!