Ek het gaan stem
Johan Viljoen
Ek het gaan stem.
(Ek het vroeër aansoek gedoen vir ‘n spesiale stem omdat ek straks nie Woensdag kan nie.)
Mooi gedink voor ek elke kruisie getrek het.
Gedink oor ‘n klompie goed.
Mors jy jou stem as jy vir ‘n kleiner party stem? Stem jy vir waardes?
Ek wens die antwoord was eenvoudig. Ja of nee, maar ek is bevrees.
Dit hang van te veel goed af en elke kieser moet as’t ware ‘n siener wees. As jy die tendens kan voorspel, sal dit dit soveel makliker maak om te weet vir wie jy moet stem. Wil en moet is ook nie altyd dieselfde nie…
Ek woon in die Swartland. Baie mense en baie toekennings/kompetisies sien die Swartland as die beste in die land.
Daar is egter ook talle inwoners (met of sonder opponerende politieke beïnvloeding) wat die huidige regerende party wil uithê.
Ja, die meeste dienslewering is eintlik die werk van die amptenary onder leiding van die munisipale bestuurder, maar politici neem steeds ingrypende en verreikende besluite wat ons ook raak.
Terug by stem.
Elke groot en regerende of hoofopposisieparty het straks klein begin, maar hoe weet jy wat nou gaan gebeur? Of jou stem in hierdie verkiesing die raadslid van jou keuse of van jou party van keuse na die raad sal stuur?
Die antwoord is eenvoudig. Jy weet nie. (Waarvoor jou drie kruisies.) (Jou wykskandidate.)
In die Swartland weet jy daar is 12 wyke wat raadslede moet kry (en 11 verdere poste vir (nog) partyverteenwoordigende raadslede. As jou stem (saam met dié van ander) op die wyksraadslid se stembrief nie genoeg is om jou kandidaat van keuse in te stem nie, is die stem teoreties net gemors as dit ‘n onafhanklike kandidaat is. Maar wag, dit is nie so eenvoudig nie.
As daardie stem saam met al die ander vir jou party van keuse se kandidaat, saam met al die stemme vir al jou party se ander wykskandidate plus dié vir daardie party op die tweede (proporsionele) stembriewe nie genoeg is om ‘n proporsionele raadslid vir die party na die raad te stuur nie, is jou stem waarskynlik gemors.
Maar is dit dalk in elk geval ‘n “gemors” om meer partye op die raad verteenwoordig te hê en straks ‘n volstrekte meerderheid te verhoed? ‘n Koalisie af te dwing? Wel dit is ‘n lang debat. Is dit goed dat een party so ver wen dat hulle eintlik spreekwoordelik kan maak soos hulle wil? Dit is ook ‘n lang debat.
Is koalisiepolitiek goed? Wel, ook dit is nie net ‘n ja of nee nie. Dit hang af van hoe stabiel die koalisie is. Hoe stabiel (amper soos in sielkunde) die vennote is en of daar streng by ‘n onderhandelde ooreenkoms gehou word. (Ons het al vele sirkusse aanskou.)
Met ‘n onstabiele koalisie kom die spreekwoordelike wiele van dienslewering ook dikwels af.
So is jou stem gemors as jy vir ‘n kleiner party stem?
Wie weet?
Dit hang eenvoudig af van die bril waardeur jy die saak bekyk.
Die Swartland.
Voorspelling?
Nee, beslis nie.
Is daar in sommige wyke dalk kanse vir ‘n swaai – bedoelende dat die meerderhede kleiner of groter sal raak of selfs verrassings kan oplewer?
Wie weet? Dit kan straks wees. Dis politiek. Wyk 11 het bv., anders as ‘n DA-raadslid in 2021, in albei tussenverkiesings sedertdien PA-raadslede verkies.
Die huidige Swartlandse munisipale raad bestaan uit 13 DA-raadslede, 5 ANC-raadslede, 2 VF+-raadslede, 1 EFF-raadslid, 1 Good-raadslid en 1 PA-raadslid.
Die DA regeer dus tans met 13 uit die 23 setels.
Vir ‘n volstrekte meerderheid moet een party 12 setels hê.
Ek het gestem. Die nadeel van so vroeg stem, is dat jy nou twee dae langer moet wag om te weet hoe jou stem die uitslagsyfers beïnvloed het.
