Moderne vleisaanleg kom in produksie
Die Cavalier-groep van maatskappye het verlede week hul splinternuwe moderne vleisverwerkings- en verpakkingsaanleg in Malmesbury in gebruik geneem.
Die fabriek wat in die industriële gebied geleë is, sal teen die tweede kwartaal van aanstaande jaar 70 ton vleis per week eksklusief vir Woolworths lewer.

Louis Viviers, hoof- uitvoerende beampte van die Cavalier-groep met aanlegte in onder meer Cullinan en Germiston, sê die fabriek beslaan ongeveer 3500 m². “Ons het 144 mense aangestel waarvan 140 uit die plaaslike gemeenskap.”
Die fabriek sal varkvleis en beesvleis wat hierheen versend word, verpak vir Woolworths se winkels van die Wes-Kaap tot KwaZulu-Natal.
Onder die produkte tel ‘n verskeidenheid bees- en varkvleissnitte, maalvleis, varkworsies, boerewors en etlikes meer.
Die eerste besending sou gister aan dié kettinggroep se verspreidingsentrum gelewer word.

Tydens ‘n fabriekstoer was dit indrukwekkend om te sien in hoeveel besonderhede daar aan elke komponent aandag gegee is om die hoogste mate van kliniese higiëne, kwaliteit en eenvormige standaard te verseker.

Die fabriek is deur die hoof van Woolworths se voedselafdeling, Chan Pillay, amptelik geopen en dié kettinggroep se hoof van handel in proteïene en suiwel, Cecil Mitchell, het die lint geknip.
Pillay het gesê dit is ‘n voorreg om die fabriek te open. Hy het die Cavalier-groep geloof vir hul visie vir dié fasiliteit wat hul te midde van heelparty uitdagings gebou het.

Oor Cavalier se besluit om die fabriek op Malmesbury te bou, het Viviers gesê die vernaamste rede was die plaaslike munisipale bestuur en administrasie. “Die feit dat die munisipaliteit so goed bestuur word, was die enkele grootste rede vir ons besluit.”
Hy het bygevoeg: “Soos julle weet kyk ons reeds na ‘n tweede belegging hier. Kry net die elektrisiteit ook oor die lyn vir ons, dan is ons hier.”
