Goedverwacht vier Snoek & Patat
Dit is weer hierdie tyd van die jaar om die kosland
van die Swartland, beter bekend as Goedverwacht
vir hul immergewilde en smullekker
Snoek en Patatfees te kom besoek.
Dié geldinsamelingsinisiatief wat jare gelede
daargestel is vir die volhoubaarheid van die
sendingdorp se ekonomie, vind die komende
naweek plaas.
Die jaarlikse fees, moontlik gemaak deur die
Goedverwacht Toerisme-ontwikkelingsforum,
speel ‘n sleutelrol in die volhoubaarheid van die
plaaslike en omliggende gemeenskappe.
Volgens Goedverwacht se toerismekantoor,
hoop die feesorganiseerders om vanjaar weer
in hul doelwitte te slaag deur werksgeleenthede
te skep, ‘n plaaslike mark vanuit plaaslik
geproduseerde produkte te bewerkstellig, toerisme-
aktiwiteite gedurende die wintermaande
‘n hupstoot te gee en plaaslike en opkomende
musikante ‘n geleentheid in die kollig te bied.
Die plaaslik geproduseerde produkte sluit
onder meer vars gebakte brode, groente en
handgemaakte produkte in.
Met die fees, ontstaan daar ‘n aansteeklike
gees in die lug waartydens besoekers hul leuse,
“want dis lekkig” kan aanvoel.
Die suksesse van die fees skep ‘n geleentheid
vir die kleinboere wat hoofsaaklik met patats en
ander groente boer en om hul bestaande besighede
uit te brei om in die groter aanvraag te kan
voorsien.
So word daar kos op die tafel gesit en geld,
omdat die oorskot verkoop kan word. Vanjaar
het die boere in samewerking met die departement
landbou 10 ha patats geplant en die
vooruitsigte lyk belowend.
Die fees skep verder geleenthede vir kleiner
besighede om stalletjies vir die duur daarvan op
te stel en blootstelling te kry.
Sowat 6000 besoekers word vanjaar verwag.
Die geleentheid skep verder werksgeleenthede
terwyl daar voorbereiding vir die verrigtinge getref
word. Inwoners ervaar ook ‘n trots tydens
feesvieringe wat sorg dat hul huise netjies is vir
besoekers.
Die fees dien as ‘n absolute ekonomiese dryfveer.
Die talente, vermoëns en vaardighede van
die inwoners van Goedverwacht kom sterk na
vore wat verdere blootstelling vir geleenthede in
die toekoms moontlik maak. Van die wins gaan
ook na plaaslike organisasies en projekte.
Dis ‘n fees, maar met ‘n egte rustige plattelandse
atmosfeer. Vanjaar kan besoekers ‘n vermaaklikheidsprogram
vanuit die boonste rakke
verwag. Kom kyk wie vanjaar die kroon dra van
mnr en mej. Goedverwacht.
Kom besoek die plaaslike museum en neem
deel aan historiese toere. Daar is vanjaar weer
‘n verskeidenheid stalletjies te sien en ‘n mallemeule
vir groot en klein. Indien jy wil kom kamp,
bring jou karavaan of tente en kom slaan op op
‘n netjiese kampterrein met kampeergeriewe. ‘n
Verskeidenheid kunstenaars kan deur die loop
van die fees op die verhoog aangetref word.
Die fees skop Vrydag om 10:00 met kindervermaak
af. Vir meer inligting, kan Sheena by
078 316 3988, uitvoerende hoof, Merle Dietrich
by 083 252 7538 of die kantoor by 071 889 1121
geskakel word. Kaartjies is by Computicket beskikbaar