Weskus-Kollege gaan Dieprivier skoon maak vir Mandela-dag
Die adjunk-uitvoerende beampte van die kollege gemoeid met ontwikkeling, Rhazia Hamza, sê die toegang tot skoon water is noodsaaklik vir armoedeverligting.
Die aksie sal plaasvind op Donderdag 18 Julie met die beginpunt in die parkeerarea van die Weskuskollege se Hoofkantoor in Loedolfstraat, Malmesbury.
Sy sê die doel van die skoonmaakprojek is om gemeenskapsverbintenisse te bevorder asook om ‘n deurlopende bewustheid te help kweek deur die gemeenskap op te voed in die beskerming van waterbronne.
Hamza het ‘n beroep gedoen op rolspelers in die Swartland-gemeenskap om die kollege te ondersteun in die Mandela-dag-projek waar dié instansie met die bystand van die Departement van Waterwese die Skoon Rivier-veldtog sal loods. Hulle sal spesifiek op die Dieprivier fokus.
Hamza sê die departement van Waterwese ondersteun die projek deur die voorsiening van skoonmaaktoerusting en -uitrusting.
Sy sê die departement sal genoeg toerusting en -uitrusting voorsien vir 20 mense per skof om te help met die skoonmaak van die Diepriver.
Die skofte waartoe rolspelers hul kan verbind, is van 08:30-09:30; 09:30-10:30; 10:30-11:30; 11:30-12:30; 12:30-13:30; 13:30-14:30; 14:30-15:30 en 15:30-16:30.
Instansies wat deel van die projek wil uitmaak, kan hul verbintenis met kontakbesonderhede, aantal persone en skoftye deurgee na Lelethu Nonyanda by nnonyanda@westcoastcollege.co.za of telefoonnommer 022 482 1143.