LatestNewsSchoolsSports

Nuwe R35m-sportkompleks nader voltooiing

Die nuwe multimiljoenrand-sportkompleks met atletiek en ander fasiliteite  tussen Kareeboomstraat en Mimosalaan, Malmesbury, nader nou voltooiing ná 'n paar vertragings.
  Die kompleks behels 'n asfaltbasis-tartanatletiekbaan met 'n sintetiese binnesokkerveld en natuurlike gras-buiteveld asook vyf nuwe dubbelaanwending tennis/netbalbane, die opknap van die bestaande klubhuis, nuwe omheining, nuwe boorgat en waterstelsel wat besproeiing insluit.
  Die projek wat R35 miljoen kos, word deur die Departement van Kultuursake en Sport befonds en sal nou na raming teen die einde van September voltooi wees, het die woordvoerder van die Wes-Kaap se departement van onderwys, Bronagh Hammond gesê. Sy het bygevoeg dat die bereiking van dié doelwit afhanklik is van die weer.
Dit is 'n Vlak 2-tartanatletiekbaan (400m) volgens die internasionale atletiekfederasie (IAAF)se standaarde met 'n veeldoelige binneveld van 98m x 60m vir die gebruik van sagtebal, bofbal, sokker of rugby.
 Die fasiliteite sal deur die aanliggende skole, Schoonspruit Sekondêr en Liebenberg Primêr asook ander skole in die omgewing gedeel word.
 Die Departement van Kultuursake en Sport, in samewerking met die skool en skole wat geïdentifiseer is om die fasiliteit te benut, sal die benutting van die fasiliteit koördineer. Hulle sal besluit watter sportsoorte deur verskillende skole op verskillende tye gespeel word.
 Ook sal die “Departement van Kultuursake en Sport die skool ondersteun en personeel voorsien vir die bestuur van die fasiliteit,” het sy gesê. 

Leave a Reply

error: Content is protected !!