LatestNewsSports

Jones, Pichon kampioene ná Riebeek-tydren

Die Wes-Kaapse tydrenkampioene is Saterdag in die Riebeekvallei gekroon ná afloop van die 6de en laaste been van die kompetisie.

Die wedren oor 8 trajekte het die oggend in Malmesbury weggespring en die eindpunt en prysuitdeling was by die Pulpit Rock-wynkelder buite Riebeek-Wes.

Llewellyn Jones van Somerset-Wes en Christophé Pichon van Welgemoed het in die Riebeekvallei-tydren hul vyfde agtereenvolgende sege in hul Subaru WRX STi 2.0 Turbo AWD behaal en die titel verower.

Indie tweede plek algeheel was John en Weston Peiser van Panorama in hul Subaru Impreza GT 2.0 Turbo AWD.

Shaun Jones en Jason Thorpe van Brackenfell in hul Subaru WRX STi 2.0 Turbo AWD het die Subaru-driekuns op die podium voltooi met hul derde plek.

Die vierde plek is ingeneem deur Overberger Paul-Hendrik Franken van Gansbaai en Matt-Jason Köhler van Heathfield in hul VW Polo Vivo GT.

In hul Toyota Tazz 1.6i het Mustapha Mia van Kensington en Ameen Snell van Ottery die vyfde plek ingeneem en ook die S3-klas gewen terwyl Wellingtonner Sakkie van Zyl en Henry Köhne van Johannesburg in hul Volkswagen Golf MkI 1.6i die S2-klas gewen het met hul 6de algehele posisie.

Die Swartlandse pa en dogter-span Cobus en Reyanah Edas van Malmesbury in hul Klas S3 Toyota Corolla RXi 1.6i se hoop op ‘n podiumposisie is in die wiele gery toe ‘n waaierband afgespring het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!