Agri/BusinessFEATUREDNews

Agri Malmesbury vereer produsente

Dicky Hewitt het op die jaarlikse proewedag van Agri Malmesbury se koringstudiegroep die Wes-Kaap Graanprodusende Beperk (WKG) Wisseltrofee vir die beste koringkamp gewen.

Die ander twee produsente in die top-drie was Derick Becker en Michiel Smuts.

In die kompetisie vir die beste bruto marge op koring per ton is die Yara-wisseltrofee (vir mees ekonomiese opbrengs) deur Hennie Eksteen ontvang vir sy beste syfer vir 2018 van R2353 per ton.

Daar word ook jaarliks ‘n Nitrophoska-wisseltrofee vir die bruto marge per hektaar vir wisselbou oor die laaste vier jaar toegeken. Dié trofee is vanjaar deur Paul Truter van Harmonie ontvang vir sy kamp K12 met ‘n syfer van R7979 per hektaar.

In die jaarlikse kompetisie om die Soiltrofee vir kanola, het Izanne Crous (landboukundige van Soil) verduidelik, is daar punte uit vyf toegeken vir elkeen van egalige stand, onkruidbeheer, swambeheer, insekbeheer en potensiële opbrengs.

‘n Halwe punt het die eerste twee plekke geskei met 19,5 en 19 punte onderskeidelik.

Die naaswenner, Paul Truter, het ‘n baie hoë peultelling van 911 peule per plant aangeteken.

Die algehele wenner en ontvanger van die trofee was Gert Claassen.

Daar is vanjaar vir die eerste keer ook ‘n kompetisie gehou vir gars wat die laaste paar jaar in die streek verbou word.

Die drie finaliste wat die beste gevaar het in die garsbeoordeling was Eben Schellink, Gert Claassen en Johan Smuts.

Smuts was die eerste ontvanger van dié toekenning.

Leave a Reply

error: Content is protected !!