Agri/BusinessLatestNews

Groot deelname by M Skou

Die afgelope naweek se Malmesbury Skou 2019 is gekenmerk deur groot deelname in die jeugskou, perdeklasse asook die Boerboelskou.

dié courant het vanoggend met die president, Koos O’Kennedy, gesels.

“Ons wil die borge en die gemeenskap wat die skou weer ondersteun het asook almal wat baie hard gewerk het, bedank vir wat hulle vir die dorp en die gemeenskap doen.”

Hy sê die reën het beslis ‘n invloed op die besoekertalle gehad, maar “ons het weer ‘n goeie skou gehad.”

Die arenaprogram wat Vrydag deur die reën in die wiele gery is, is Saterdag ingepas.

Werk die laaste paar jaar aan die skouterrein het die fasiliteit uitgebou met onder meer ‘n vergrote kombuis asook die vergroting van die terras oorkant die arena.

Die damesaand is Woensdagaand gehou en was weer baie gewild.

O’Kennedy sê by die jeugskou Donderdagmiddag “het 123 kinders in die onderskeie afdelings deelgeneem.

“Daar was verskeie afdelings soos wol- en vleisskaap, vleis-, melk- en veselbokke, perde, vleisbeeste en hoenders.

“Baie dankie ook aan die eienaars wat hul diere vir die jeugskou beskikbaar gestel het.”

Die perde-afdeling het ook ‘n groot aantal inskrywings gelok met 180 perde wat deelgeneem het. “Ons kon ongelukkig nie almal wat wou kom, akkommodeer nie en moes by die 30 weg wys.”

Die Wes-Kaap Boerboel-klubkampioenskap het ook Saterdag plaasgevind en daar, vertel O’Kennedy, het 110 honde deelgeneem.

“Die Boerboel-organiseerders is baie tevrede en beplan ook om dit verder uit te bou in die toekoms.”

Daar was ook baie ander vermaak vir oud en jonk met poppekas en musiekoptredes asook toutrek en ‘n valskermvertoning.

Leave a Reply

error: Content is protected !!