LatestOns Mense

Arendse wil die ‘Argus’ ry ná nuwe nier

Johan Viljoen
Supergelukkig!!!
Hierdie super-woord kom keer op keer oor sy lippe as hy beskryf waar hy nou is.
“Die ondersteuning van die gemeenskap – mense wat ek nie eers ken nie – is ‘super awesome’.
“Ek is só bevoorreg en sal graag wil sien dat my storie ook ander mense help en inspireer.”
‘n Maklike pad tot hier, was dit nie. Met baie opdraandes en diep donker valleie agter die rug, wil Bradley Arendse nou net stadig maar seker herstel van sy nieroorplanting en so gou as moontlik weer in die gimnasium en op die fiets kom om te begin trap.


“Ek kan dit steeds nie glo nie. Dit is net 20 dae gelede wat ek die nier gekry het.
“Ek is só dankbaar. Dit het my hele lewe verander. Ek het nog ‘n kans gekry.”
Sy vinnige herstel is juis toe te skryf aan hoe fiks hy was voor die operasie.
Op 5 November, kort voor sy 36ste verjaarsdag, was alles gereed. Bradley was op die operasietafel in die teater in Tygerberg-Hospitaal.
Die sjirurg en narkotiseur en die span was reg en hy moes net narkose kry.
“Ek was só opgewonde. …en toe val alles plat en ek was sommer dadelik in ‘n donker gat. Wat nou?”


Hierdie nier sou Arendse wat op Abbotsdale grootgeword het en in Malmesbury woon, se lewe drasties verander.
Hy moes die laaste 5 jaar dialise kry en die laaste twee jaar was dit drie keer per week. Meer as ‘n jaar gelede is hy medies ongeskik verklaar om te werk en moes hy en sy gesin die aanpassings maak wat met die verminderde salaris gepaard gaan.
Maar toe kom daar ‘n oproep om die operasie te stop. Die sjirurg het verduidelik hulle het ‘n rooivlag op die skenkernier gekry en hulle moes eers vasstel wat fout was. Nog toetse doen. Dit sou die hele dag neem. Dit kon hepatitis B wees of MIV. Met laasgenoemde sou hulle die nier nie inplant nie.
“Ek weet nie wie se nier dit was nie en hulle wou ook nie vir my die nier wys nie. Ek weet net dit was ‘n 40-jarige man.”
Dit was moeilik om vir Arendse ‘n skenker te kry, veral ook omdat sy bloedgroep O negatief is. Maar negatief is hy nie. Hy borrel en vertel van die wonderlike ondersteuning ook van sy vrou, Sandy.

Foto: FB

“Sy is my steunpilaar die laaste klomp jare al. Soggens vroeg opgestaan as sy vir my moet brood insit en snags opgetel as ek flou geraak het.”
‘n Lang senutergende dag het op Arendse gewag. “Die susters was ook ‘awesome’. Hulle het die hele nag nuwe ys op die nier gepak om hom koud te hou.”
En toe kom die uitslag dat dit hepatitis B was en hulle die nier kon inplant.
“Een van die heel wonderlikste dae van my lewe.”
Hy herstel goed en gaan tans drie keer per week vir opvolgbesoeke om seker te maak als loop reg. Hy en sy gesin is ook pas terug van ‘n kort Weskuswegbreek wat vir hulle geskenk is.
Hy drink elke dag (op vier vasgestelde tye) meer as 30 pille – enigiets van ‘n halwe disprin tot immuunonderdrukkers om te keer dat die liggaam die nier verwerp en bloeddrukmedikasie en medikasie teen diabetes en medikasie om seker te maak alle lesings is op aanvaarbare vlakke.
Dan moet hy ook sy eetgewoontes fyn dophou om onder meer vette en proteïen- en kaliumvlakke te beheer.
“Ja, dit was maar ‘n aanpassing, maar die wonder om nog ‘n kans te kan kry, is veel groter.”
Arendse gaan vir eers nog ‘n masker dra om die risiko van kieme en infeksie te beperk en daar is ook ‘n paar bottels alkohol-reiniger in die huis om hande te was en so klinies moontlik te leef.
Hy het ook begin gedigte skryf en twee van sy werke gaan opgeneem word in ‘n bundel, Koffers vol Hoop, wat eersdaags sal verskyn.

Een uit sy se pen:

Vir gemeenskap

Ek lê vandag
met ‘n nuwe nier, maar
eerder meer met ‘n warm hart,
Vir die ondersteuning, belangstelling wat ek
Kon kry op my pad.

Die pad was lank en droewig,
Sommige dae mismoedig, ek
Het kans op nuwe lewe, het so
Baie om na te strewe.

Ophou, ek kan nie meer nie,
het ek geleer om te vergeet,
Want jy weet wat in jou steek.
Hard werk, konsentreer en elke dag leer en leer,
doen dit weer en weer, al maak dit seer.

Uit die bed, af in die gang, slapriem, dink hy gaan my vang,
Nee pappa, nier is in, nou weer
Tyd vir n nuwe beter begin.

Dankie julle

In die sitkamer van hul huis staan die fiets waarmee ‘n vriend “my gebless het, toe ek wou begin fietsry vir ‘n bietjie oefening.”
Intussen het hy al aan ‘n paar wedrenne deelgeneem en het ook, voor hy geweet het van die nier, ingeskryf vir die 2020 Kaapstad Fietswedren (voorheen die Argus).
“Ek hoop steeds om betyds te herstel,” maar hy moet nog ‘n padfiets geborg kry. “Dit sal bietjie moeilik gaan met die bergfiets,” voeg hy by.
Hy het op Abbotsdale grootgeword en dit was nie altyd maklik nie. Rugby ook gespeel en in een stadium “maar aggressie-probleme gehad en bietjie moeilikheid ook gemaak”.


Arendse is baie dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat hy oor jare uit die gemeenskap en ook van sy werkgewers ontvang het.
Hy sonder heelparty mense uit, waaronder Bouwer Rall, Joe du Toit en Jacques Schade.
“Hierdie mense en KaapAgri (sy werkgewer) het my baie gehelp en ondersteun. Ek was baie hartseer toe ek moes ophou werk.”
Maar as als volgens plan verloop kan hy in 2020 terugkeer werk toe. As die dokters hom geskik verklaar en die werkgewer ‘n posisie beskikbaar het, sal hy weer kan gaan werk.

Leave a Reply

error: Content is protected !!