FEATURED

Swartland M beste met waterbewaring

Die Swartland Munisipaliteit is aangewys as die Wes-Kaap se top-owerheid vir Waterbewaring en Bestuur.
Dit maak deel uit van die jaarlikse kompetisie vir die groenste munisipaliteit in die provinsie waar Swartland vanjaar as die naaswenner is.
Die wenners van die 2019-kompetisie vir die Wes-Kaap is gisteraand tydens ‘n prysuitdeling wat deur die Provinsiale Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, aangekondig.

Bredell sê die Groenste Munisipaliteit-kompetisie is daarop gemik om munisipaliteite te motiveer en te inspireer om omgewingskwessies in hul streke aan te spreek.
“Munisipaliteite speel ‘n kritieke rol in ons land se hantering van die uitdagings wat klimaatsverandering inhou. As ons dorpe nie doeltreffender is nie en nie beter voorbereid is op die uitdagings wat ons teëkom nie, sal die ekonomiese groei wat ons in ons land nodig het, net nie moontlik wees nie,” het Bredell bygevoeg.
Bredell het gesê dit is van kritieke belang dat munisipaliteite hul hulpbronne doeltreffender gebruik.
“Dit sluit in om te verseker dat hulpbronne soos water en elektrisiteit optimaal bestuur word, of net om afval te verminder. Ons moet hulpbronne beter bewaar, verstandig gebruik en sorg dat toegang tot hierdie hulpbronne billik oor alle gemeenskappe verdeel word. ”
Vir die kompetisie word munisipaliteite geëvalueer in verskillende kategorieë waaronder afvalbestuur, biodiversiteitsbestuur, water- en bewaringsbestuur en bestuur van luggehalte.

“Die kompetisie het ten doel om dié wat hul bes doen om groter verandering in hul gemeenskappe aan te wakker en hul gemeenskappe meer veerkragtig en meer omgewingsvriendelik te maak, geluk te wens,” het Bredell gesê.
Die algehele wenner vanjaar is Drakenstein, met Swartland tweede en Mosselbaai derde.

Onder die ander kategoriewenners is:
• Reaksie op klimaatsverandering – Drakenstein
• Lugkwaliteitsbestuur – Drakenstein
• Afvalbestuur – Saldanhabaai
• Waterbewaring en Bestuur – Swartland
• Bestuur van biodiversiteit – Overstrand
• Kusbestuur en stedelike verfraaiing – Mosselbaai
Die Drakenstein Munisipaliteit het ‘n bedrag van R260 000 gewen, terwyl Swartland R140 000 en Mosselbaai R100 000 ontvang.

Leave a Reply

error: Content is protected !!