N7 vanaf Melkbos oop vir vakansie – Sanral
Bouwerk aan die N7-snelweg vanaf die Melkbos-afrit tot by die Hopefield afrit nader nou vinnig voltooiing.
dié courant het, met die oog op die naderende vakansie en vakansieverkeer, by Sanral se provinsiale streekbestuurder, Randall Cable, navraag gedoen oor die N7-projek.
“Die goeie nuus is dat die N7-dubbelweg vanaf die Atlantis Suid-wisselaar na Malmesbury voltooi sal wees teen die begin van die skoolvakansie.
“Kontrakteurs sal in die nuwe jaar terugkeer om die uitstaande werke aan hierdie gedeelte van die N7 te voltooi.
Die N7 tussen Melkbosstrand en Malmesbury sal dus volledig oopgemaak word en as ‘n dubbele snelweg werk, vanaf die begin van die skoolvakansie van 2019/20,” het Cable bygevoeg.
Hy sê baie N7-padgebruikers onthou nog die enkelbaan tussen die kruising van Melkbosstrand (N7-M14) en Malmesbury, waaraan hulle gewoond geraak het.
Cable sê benewens die nou baie verbeterde kapasiteit, is daar “ook baie verbeterde veiligheidsvoordele vir motoriste. Die verbeterde kapasiteit verminder die risiko’s om stadig bewegende swaar voertuie in te haal, veral teen die aankomende verkeer.
“Ongelukkig was dit voorheen die norm op die N7-enkelweg wat voorheen ‘n hoë aantal noodlottige ongelukke gehad het.
“Die verbeteringe sal natuurlik ook die spanningsvlakke van motoriste verlaag en help vir ‘n baie aangenamer ry-ervaring.”
Volgens Cable is ‘n verdere belangrike voordeel is die groot wisselaars en ondersteunende sekondêre paaie-stelsel wat saam met die N7-opgraderings gebou is.
“Hierdie verbeterings skakel nou die gevaarlike kruisings waar die meerderheid van die ongelukke plaasgevind het, uit.
“Die verbetering aan die N7 tussen Melkbosstrand en Malmesbury sal motoriste dus nie net aansienlike tyd en reiskoste bespaar, maar sal ook ‘n aansienlik veiliger padomgewing en reiservaring bied.”
Cable het gesê met die kontruksie noord van Malmesbury tot verby die Hopefieldaansluiting sal verkeer steeds op ‘n enkelbaan-gereguleer word, maar sal daar gedurende die feestyd geen stop/ry-stelsels wees nie.
Gevra na die verwagte datum van voltooiing van die Hopefieldaansluiting, het woordvoerder, Elma Lourens, gesê: ” Ons kyk tans na Februarie 2020. Nie in beton gegiet nie, maar haalbaar.”
Cable het alle motoriste veilige reise gedurende die feestyd toegewens en diegene wat lang afstande reis gevra om “gereeld stil te hou en ruskanse te neem om erge moegheid van die bestuurders te voorkom”.