Werk aan De Korenvlij-sentrum begin
Werk vir die konstruksie van die nuwe De Korenvlij-winkelsentrum vir Malmesbury het reeds begin met die grawe van sigslote.
Die perseel in Voortrekkerstraat bestaan uit twee erwe waar die winkelsentrum met 96 parkeerplekke volgens plan in 2020 sal verrys met onder andere ‘n Woolworths-winkel.

Die ontwikkelaar het aan dié courant gesê alles is in plek.
Hy het bygevoeg dat hulle nog ‘n paar persele beskikbaar het vir voornemende huurders.

Omdat die perseel baie nat en vleierig is, is daar nou eers sigslote gegrawe vir dreinering voor bouwerk in die eerste helfte van 2020 kan begin. Die sentrum sal volgens aanduidings teen die einde van 2020 sy deure open.
In die een hoek van erf 678 is daar ‘n ou gebou wat volgens die plan in ‘n restaurant van ongeveer 195 m² omskep gaan word.

Daar is reeds ‘n aansoek by Erfenis Wes-Kaap ingedien om die afdak aan die Hugenotestraat-front te sloop en die nodige restourasiewerk te doen.
Die aansoek het voor die laaste vergadering van Erfenis Wes-Kaap se Bou- en Landskap Permitkomitee gedien. Daar is besluit om meer besonderhede van die beoogde restourasie aan te vra alvorens dit goedgekeur sal word.
Die gebou se ouderdom word op meer as ‘n 100 jaar geskat en enige sodanige werk aan geboue ouer as 60 jaar het spesiale toestemming van Erfenis Wes-Kaap nodig. Dié ou huis is in terme van erfenisregulasies as ‘n 3C erfenishulpbron geklassifiseer is.

In die Afdeling 34-aansoek voor Erfenis Wes-Kaap is ook beeldmateriaal voorgelê wat wys dat die res van die perseel waar die De Korenvlijsentrum gebou gaan word vroeërjare ‘n vrugteboort gehuisves het.
Die beplande restaurant sal ‘n oop stoep hê wat op Hugenotestraat uitkyk. Aan die Voortrekkerstraat-kant daarvan sal een van die twee grootste winkels van die nuwe sentrum gebou word.

Toegang tot die nuwe winkelsentrum sal op die suidoostelike punte van die perseel wees met 41 onderdak-parkeerplekke asook 32 oop parkeerplekke waaronder twee vir gestremdes.
Daar is ook voorsiening gemaak vir 21 straatparkeerruimtes aan Voortrekkerstraat en Hugenotestraat en motorfietsparkering.
Die voorlopige planne toon dat daar twee groot winkels van 440 m² en 420 m² elk is waarvan een die Woolworths sal huisves.

Die voorlopige planne maak ook voorsiening vir twee “Fast Food”-restaurante aan Voortrekkerstraat, 4 bankoutomate en 16 ander winkels wat in vloeroppervlak wissel van 22 m² tot 160 m². Die totale verhuurbare oppervlak is 2387 m².

Volgens aanduidings sal die sentrum ook ‘n Clicks-winkel huisves.