1ste Yzer hawekonsert lok 3700 mense
YZERFONTEIN – Die eerste Yzerfontein Musiekfees onder die sterre gisteraand in die hawe word deur die organiseerders as ‘n groot sukses beskryf.
“Ek het geweet in Desember is hier baie mense in die dorp en dit is al wanneer ons dit kan hou, maar ek het nie so baie mense verwag nie.” Só het die hooforganiseerder, Francois van der Merwe, aan dié courant gesê.
“Ek het eerlikwaar gehoop vir so 1500 mense en toe verkoop ons 3000 kaartjies. Saam met die geskatte 700 kinders was daar so ongeveer 3700 mense by die fees.”
Vyf van die land se gewildste Afrikaanse kunstenaars, Fatman, Demi Lee Moore, Arno Jordaan, Appel en Jo Black – het die konsertgangers onder die sterre tot laat getrakteer met top-musiek en -sang.
Die fees is deur die Table View Tafelronde aangebied, terwyl die proses om ‘n tak op Yzerfontein te stig teen die einde van Febraurie afgehandel behoort te wees.
Jordaan het tydens die konsert die organiseerders en ‘n weldoener, Wouter Bornmann, bedank wat dié geleentheid finansieel gerugsteun en moontlik gemaak het.
Van der Merwe het gesê daar is ‘n paar praktiese relings wat hulle sal verander maar gaan beslis die fees aanstaande jaar weer aanbied.
Hy het naas die weldoener ook al die mense wat die fees bygewoon het en die kunstenaars asook die mense wat by die organisering betrokke was bedank.
Jo Black het voor die konsert aan dié courant vertel dat dit sy laaste optrede van ‘n 17 konsert-toer is en dat hy en sy gesin vanaand na Europa vertrek vir ‘n vakansie van 3 weke.
Hy het gesê hy kom gereeld op Yzerfontein waar Appel woon. “Dit is ook hier in Yzerfontein waar ek my eerste album, Skepe, geskryf het,” het hy bygevoeg.
*Twee gelukkige lesers van dié courant – Annet Huisamen van Malmesbury en Elana la Grange van Yzerfontein – het in die leserskompetisie elk dubbelkaartjies na die konsert gewen.