Solo Studios gee; Olive Branch loods projek
Riebeek-Kasteel se First Fridays is nou reeds ‘n gewilde instelling en optredes deur plaaslike talent dra elke maand by tot die feestelike atmosfeer.
As deel van hul bydrae tot die gemeenskap het Solo Studios en die kunstenaars wat aan dié jaarlikse naweek in Augustus deelneem, besluit om ‘n bydrae te maak tot uitrusting vir die Riebeek-Kasteel Steelband wat reeds vir jare ‘n gewilde komponent van dié dorp se kultuurgeleenthede is.
Klaus Piprek van Solo Studios het die uitrusting Vrydagaand by Short Street aan die Steelband oorhandig.
Die Olive Branch Project dra ook elke keer by tot die vermaak by First Fridays en Vrydagaand is ‘n nuwe projek deur dié organisasie van stapel gestuur.
Hulle gaan later vanjaar ‘n besondere en unieke weergawe van die vallei van Shakespeare se verhaal van Romeo en Juliet in die opelug in Afrikaans, Xhosa en Engels opvoer.
Om die projek te loods, word belangstellendes genooi om as vrywilligers deel te word van die uitgebreide span om die produksie saam te stel.
Dit sluit dansers, sangers, musikante, komponiste, choreograwe, stel- en kostuumontwerpers en -vervaardigers asook tegniese hulp en algemene assistente in.
Alle inwoners van die Vallei word uitgenooi om deel te neem. Daar sal deur die jaar ook werkwinkels wees om inwoners te help om die nodige vaardighede vir die produksie te ontwikkel.
Vir navrae, kontak Mark Wilson by 082 851 1262.